Baie dankie vir die ondersteuning!

Vandag het Skryf Afrikaans se Facebook-blad amptelik 60 likes! Dit is vandag net ʼn bietjie meer as twee weke vandat die eerste plasing op hierdie blog gemaak is en die positiewe terugvoer tot dusver was ongelooflik! Indien jy belangstel een keer ʼn maand ʼn nuusbrief te ontvang oor wat nuut is op Skryf Afrikaans, oorweeg dit om vir die nuusbrief op te skryf. Jy kan ons ook op Instagram kry.

Kortpad-Afrikaans (2021)

Ek kan Kortpad-Afrikaans (2021) aanbeveel. Dit is ʼn “tweetalige kontrolebron” oor Afrikaanse grammatika wat primêr gefokus is op die aanleer van Afrikaans deur tweedetaalsprekers en vreemdetaalsprekers van Afrikaans. Met ander woorde, dit is ʼn boek oor Afrikaanse grammatika wat jou kan help om Afrikaans te leer. Dit is ook handig vir eerstetaalsprekers van Afrikaans al is daar, as gevolg van die fokus op tweedetaalsprekers en vreemdetaalsprekers van Afrikaans, ook Engelse teks in die boek. Ek sou hierdie boek aanbeveel vir enige een wat ʼn eenvoudige naslaanbron oor Afrikaanse grammatika soek.

Die boekbekendstelling

Op 25 Mei 2022 om 19:00 het Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en African SUN Media ʼn boekbekendstelling op Facebook en Zoom gehad. Hierdie bekendstelling sal op YouTube beskikbaar wees. Anne-Marie Beukes het die verwelkoming gedoen. Wannie Carstens het ʼn onderhoud gevoer met die drie skrywers Rina Loader, Tobie van Dyk en Charlene Human. Die inligting in hierdie plasing kom uit hierdie bekendstelling uit.

Waar kan jy Kortpad-Afrikaans koop? 

Jy kan dit aanlyn aanskaf by die volgende verskaffers:

Jy kan die boek ook direk by die uitgewer bestel: 

  • AFRICAN SUN MeDIA: 021 201 0071 / orders@africansunmedia.co.za

Die skrywers en hoekom hulle die projek aangepak het

Die skrywers het verskillende akademiese agtergronde, maar hulle het Afrikaans en die studie en onderrig van Afrikaans in gemeen. Daar is, volgens Van Dyk, min boeke beskikbaar vir Afrikaanse taalverwerwing. Dit is hierdie gaping in die mark en geleentheid vir vernuwing van die skrywers aangegeryp het. Die doelwit was om ʼn boek te skryf wat toeganklik is vir die vreemdetaalspreker van Afrikaans. Loader, wat werk in Oostenryk, verduidelik dat ʼn boek soos Kortpad-Afrikaans baie sal help vir die onderrig van Afrikaans in die buiteland. Oorsee is dit soms moeilik om Suid-Afrikaanse handboeke in die hande te kry. Kortpad-Afrikaans is ʼn alles-in-een-boek en is byvoorbeeld maklik om oorsee te bekom. Dit is natuurlik ook as ʼn eboek beskikbaar. Dit is ʼn handige boek vir selfstudie en naslaan.

Die inhoud van die boek

Volgens die skrywers is die skryfstyl van die boek is eenvoudig en duidelik. Die boek is ongeveer 200 bladsye. Dit het sewe hoofstukke. Die eerste hoofstuk dek die geskiedenis en erfenis van Afrikaans. In hierdie hoofstuk kan jy leer hoe die taal en kultuur van Suid-Afrika geïntegreer is met mekaar. Dan is daar hoofstukke oor verskeie grammatikareëls en verduidelikings. Dit sluit onder meer klankleer, sintaksis, woordsoorte, sinstruktuur, en betenislees in. Die boek bevat ook “kortpad-info” in blou-blokkies wat elke paar bladsye verskyn wat die inhoud in eenvoudige opsommings saamvat. Die inhoud is alles wat tipies in Afrikaanse handboeke voorkom, maar in meer detail en sal ʼn student deur al vyf jaar van hoërskool help. 

Wat die boek uniek maak

Hier volg ʼn paar kolpunte wat die skrywers self genoem het in verband met die boek. Dit is die skrywers se siening van hoekom hierdie boek ʼn unieke bron is:

  • Die inhoud se vlakke is gemerk volgens die Common European Framework of Reference for Languages se verskillende vlakke. Dit maak die boek uiters handig in die internasionale mark en gee vir die opvoeder ʼn aanduiding watter dele van die boek pas by watter soort aanleerder. 
  • Die boek bevat Engelse verduidelikings wat dit baie gebruikersvriendelik maak. 
  • Die uitleg en die kleurgebruik ontsluit die leermateriaal. Met ander woorde, die kleur van die teks maak dit maklik om te sien watter soort inhoud dit is.
  • Alhoewel die CAPS-leerplan in ag geneem is met die skryf van die boek is hierdie boek nie op ʼn spesifieke leerplan gebaseer nie en daarom kan jy die boek se inhoudopgawe gebruik om te kies watter inhoud vir jou gaan pas. 
  • Die skrywers het gewerk met die aanname dat almal wat die boek optel nie noodwendig die fonetiese alfabet gaan ken nie. Daarom is daar Engelse voorbeelde om die leser te help met die uitspraak. 
  • Tegniese terme word in eenvoudige taal weergegee. 
  • Standaardafrikaans is bloot ʼn vertrekpunt. Daar word gereken met al die verskillende variasies van Afrikaans
  • Hierdie boek is die eerste boek in ʼn reeks. Daar volg nog werkboeke wat sal terugverwys na hierdie naslaanbron. 
  • Hierdie boek is handig vir die flipped classroom of omgekeerde klaskamer-model. Onderwysers kan leerders met hierdie boek bemagtig. 
  • Daar is gesprekke met onderwysers gevoer met die skryf van die boek. Dit is uiters bruikbaar vir skoolonderwysers.

Skryf Afrikaans is ‘n skryfblog oor onder meer akademiese geletterdheid. Indien jy meer wil leer oor Afrikaans en hoe om die akademiese omgewing te navigeer kliek hier.

Cat with a book. The title of the book is "Kortpad-Afrikaans"
Skets van ʼn kat wat in sy noppies is met Kortpad-Afrikaans deur Aletta Simpson

Skryfhulp: Inleidings

Hoe skryf ʼn mens ʼn akademiese inleiding? Hoe verduidelik ʼn mens vir iemand hoe om ʼn akademiese inleiding te skryf? Hier is ʼn paar plasings wat op Skryf Afrikaans beskikbaar is: 

Indien jy nog vrae het oor hoe om ʼn inleiding te skryf wat nie in hierdie plasings beantwoord word nie, voorstelle wil maak of foutjies raaksien, sal ek graag van jou wil hoor! Jy kan my hier kontak.

ʼn Penskets van ‘n kat wat ‘n potlood vashou deur Aletta Simpson

Leesstof oor inleidings

Skryf Afrikaans is ʼn skryfblog waarop daar onder meer in Afrikaans inhoud oor hoe om ʼn akademiese opstel te skryf, geplaas word. Kyk onder “Kategorieë” en kliek “Inleiding” om Skryf Afrikaans se Afrikaanse plasings te lees oor hoe om ʼn akademiese opstel te skryf. Indien jy voel jy wil nog lees oor hoe om ʼn inleiding te skryf, is hier ʼn paar plasings op Engelse webtuistes wat jy kan lees:

Grammarly – Hierdie bron het ʼn interessante invalshoek: Met jou inleiding moet jy die vraag “Hoekom moet ek hierdie opstel lees?” beantwoord. 

Scribbr – Hierdie bron werk met die beginsel dat jou inleiding ʼn “hook” (inleidende sin), konteks, hipotese en “structure review” (die ‘padkaart’) moet bevat. Daar is ook ʼn lekker voorbeeld van hoe ʼn inleiding moet lyk. 

Global Campus – Hierdie bron verduidelik die tregter-metode en verduidelik ook hoe om ʼn gevolgtrekking te skryf. Hier volg binnekort ʼn paar plasings op Skryf Afrikaans wat verduidelik hoe om die gevolgtrekking aan te pak.

A photo of a sketch of a cat with books.
‘n Penskets van ‘n kat met leesstof deur Aletta Simpson

Skyfies vir onderwysers

Hierdie plasing bevat ʼn stel skyfies vir mense wat vir studente en naskoolse studente moet leer hoe om ʼn inleiding te skryf. Die skyfies bevat die inhoud van Skryf Afrikaans se plasings oor hoe om ʼn inleiding te skryf. Die skyfies is gratis en jy is vry om dit te gebruik. Ek vra wel dat jy, waar toepaslik, sal noem dat dit Skryfafrikaans.com se inhoud is en dit veral sal aanbeveel vir vriende en kollegas wat ook kan baat by hierdie skyfies. Ek is beskikbaar vir terugvoer en navrae oor verdere inhoud. Ek hoor graag van jou! Hier kan jy my kontak.

Inleidingwerksblad

Hierdie plasing bevat ʼn inleidingwerksblad wat jy kan gebruik om jou te help om die inleiding van jou opstel te skryf. Dit is handig vir wanneer jy reeds jou navorsing gedoen het en reeds die lyf van jou opstel geskryf het. Met ander woorde, hierdie metode is vir skrywers wat hulle inleiding laaste skryf. Sien metode B van die plasing oor ʼn plan om ʼn inleiding mee aan te pak

Indien jy ʼn opvoedkundige is, is hierdie ʼn handige werksblad om vir die studente te gee wat moet leer hoe om ʼn inleiding te skryf.

Laai die werksblad hier af:

In watter tyd word ʼn inleiding geskryf?

In die inleiding van jou akademiese opstel noem jy jou hipotese en jy noem dit wat jy in die lyf van jou opstel gaan bespreek (die padkaart van jou opstel). Jy gaan verduidelik wat jy nog gaan doen (in die “toekoms” van die opstel), maar jy wonder presies watter werkwoorde jy moet gebruik. Met ander woorde, “gaan” jy iets ondersoek “het” of “ondersoek” jy net iets? Moet jy in die toekomstige, verlede of teenwoordige tyd skryf in jou inleiding? Die kort antwoord is dat ʼn mens in die teenwoordige tyd skryf. Jy “gaan” nie iets ondersoek nie, jy “ondersoek” iets. Jy “gaan” nie iets in die lyf van jou opstel bespreek nie, jy “bespreek” iets. Hierdie plasing ondersoek die inleidings van ‘n akademiese artikel en bespreek in watter tyd daar geskryf is. (Let op hoe die vorige sin die teenwoordige tyd gebruik om te verduidelik wat jy nou in hierdie plasing gaan lees.)

Hierdie uittreksel kom uit die inleiding van Liebenberg (2022:282-283):

“Die chimeriese aard van groteske ornamente uit die Renaissance en Maniëristiese periodes word hier ondersoek met betrekking tot die manier waarop die grense wat normaalweg die menslike, dierlike, en plantkundige kategorieë duidelik afbaken, daardeur oorskry en ontbind word.

Die visuele ontleding van etlike kunsvoorwerpe uit hierdie periodes word verder belig deur ’n literatuurstudie wat, onder andere, verskeie benaderings tot die onderwerp uit die kunsgeskiedenis bespreek. Om redes wat te doen het met die geskiedenis van kunsgeskiedskrywing en verwante velde in die geesteswetenskappe, word die net wyer gegooi om sin te maak van bogenoemde verskynsel. Kunshistorici uit vroeër jare, soos die beroemde Heinrich Wölfflin (1864–1945), was geneig om universele patrone in die verloop van Westerse kunsgeskiedenis in te lees (Wölfflin 1915 [1923-uitgawe]; Gaiger 2002; Gaiger 2015; Newall 2015). Gedurende die 20ste eeu was daar, om verskeie redes, ’n groeiende neiging om sulke universele beginsels te verwerp. ’n Soortgelyke neiging was ’n algemene verskynsel in die geesteswetenskappe gedurende hierdie tydperk, en dit is tot ’n uiterste gedryf deur poststrukturalisme. Poststrukturalistiese antropoloë het byvoorbeeld die ontologiese geldigheid van etnografiese bevindings bevraagteken en aangevoer dat geen twee kulture dus met mekaar vergelyk kan word nie; dat sulke vergelykings bloot ’n manifestasie van Westerse imperialistiese arrogansie is. Maar so ’n radikale kulturele relativisme impliseer dat antropologie as ’n wetenskaplike veld tot niet verklaar moet word, want sonder veralgemenings gebaseer op vergelykende studie kan geen wetenskaplike gevolgtrekkings gemaak word nie (Gregor en Tuzin 2001:5). Hierdie geskiedenis het gelei tot ’n algemene vooroordeel teen vergelykende studie en universele in die geesteswetenskappe, met die gevolg dat byvoorbeeld kunshistorici geneig is om te fokus op die spesifieke kulturele en historiese konteks van hul onderwerp en wyer kulturele patrone te ignoreer. Sulke wyer patrone word gereeld sonder meer verwerp as blote toeval of ’n produk van die navorser se imperialistiese verbeelding (sien bv. Lincoln 2015:447, n 3).” 

Wanneer daar in die inleiding van hierdie artikel wat hierbo aangehaal word, gepraat word van wat die skrywer van die artikel in die lyf van die artikel aangepak het, vind dit in die teenwoordige tyd plaas: 

  • “…word hier ondersoek…”
  • “…word verder belig…”
  • “…word die net wyer gegooi…”

Wanneer daar na vorige ondersoeke deur ander akademici verwys word, vind dit in die verlede tyd plaas: 

  • “Kunshistorici uit vroeër jare, soos die beroemde Heinrich Wölfflin (1864–1945), was geneig om…”
  • “Poststrukturalistiese antropoloë het byvoorbeeld die ontologiese geldigheid van etnografiese bevindings bevraagteken en aangevoer dat geen twee kulture dus met mekaar vergelyk kan word nie; dat sulke vergelykings bloot ’n manifestasie van Westerse imperialistiese arrogansie is.”

As daar verwys word na ondersoeke wat tans deur ander akademici gedoen word, is dit in die teenwoordige tyd. Let byvoorbeeld op die volgende aanhaling. Die teenwoordige tyd en die verlede tyd word gemeng afhangende van of daar na ondersoeke van die verlede of die hede verwys word:

  • “Hierdie geskiedenis het gelei tot ’n algemene vooroordeel teen vergelykende studie en universele in die geesteswetenskappe, met die gevolg dat byvoorbeeld kunshistorici geneig is om te fokus op die spesifieke kulturele en historiese konteks van hul onderwerp en wyer kulturele patrone te ignoreer.”

Bronnelys:

Liebenberg, D. 2022. Chaos en teenstruktuur in Europese groteske ornamente van die 16de en 17de eeue. Litnet Akademies. 19(1): 280-306. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2022/04/LitNet_Akademies_19-1_10_Liebenberg_280-306.pdf [2022, April 30].

Hoe om ʼn inleiding te skryf

Jou inleiding is die eerste paragraaf van jou opstel, dit bevat ʼn hipotese en ʼn padkaart. Hierdie plasing gaan oor die inhoud van ʼn inleiding en hoe om dit te beplan. Hierdie plasing word in twee gedeel: (A) Hoe om ʼn inleiding te beplan voordat jy die res van jou opstel begin skryf het en (B) hoe om jou inleiding te beplan as jy alreeds die res van jou opstel geskryf het. Ek verkies dit om my inleiding te skryf as ek reeds die res van my opstel geskryf het, maar skryfstyle verskil en miskien verkies jy dit om jou inleiding te skryf voor jy die res van jou opstel aanpak.

(A) Hoe om ʼn inleiding te beplan voordat jy die res van jou opstel begin skryf het

Lewis Carrol het geskryf: “Begin at the beginning.” Hier volg ʼn plan om ʼn inleiding te beplan voordat jy die lyf van jou opstel skryf. 

Stap 1:

Identifiseer jou hipotese. My voorbeeld-hipotese is: Katte is beter as honde. 

Stap 2:

Vra jy jouself af hoekom jou hipotese waar is. Die vraag lyk so: Hoekom [hipotese]? Of in hierdie geval: Hoekom is katte beter as honde? 

Stap 3:

Lys moontlike antwoorde op jou vraag (dit vorm jou moontlike argumente) om jou hipotese te staaf. Miskien het jy al oor hierdie onderwerp opgelees en sal jy maklik ʼn hele lys redes kan noem. Indien jy nog nie hierdie vraag kan beantwoord nie, is dit ʼn goeie idee om verder te gaan lees oor hierdie onderwerp. In die geval van ons voorbeeld sou ʼn mens die volgende argumente kon oorweeg (Let wel: hierdie is almal denkbeeldige argumente): 

  • Katte is kleiner as honde. 
  • Katte het ʼn sagter pels as honde.
  • Katte maak minder geraas as honde. 
  • Katte eet minder as honde. 
  • Katte hardloop vinniger as honde.
  • Katte het langer sterkte as honde.

Stap 4:

Identifiseer die argumente wat die mees oortuigend is. Maak seker dat daar ook vir hierdie (akademiese) bronne beskikbaar is. (Wanneer jy jou lyf van jou opstel skryf gaan dit jou baie help as daar bronne oor jou argumente beskikbaar is). Vir my voorbeeld identifiseer ek dan die volgende argumente: 

  • ʼn Kat se pels is sagter as ʼn hond se pels. 
  • ʼn Kat hardloop vinniger as ʼn hond. 
  • ʼn Kat het ʼn langer stert as ʼn hond.

Stap 5:

Skryf ʼn inleidende sin (of twee). Dink in terme van ʼn tregter: van groot na klein. In die in terme van ʼn opstel beteken dit: van die breedste konteks na dit wat vir hierdie opstel ter sake is. Die inleidende sinne van my inleiding van my denkbeeldige opstel sal so iets wees:

Daar is ʼn eeue oue debat oor watter diere die beste troeteldiere maak [die breëdste konteks]. Katte en honde word dikwels met mekaar vergelyk [dit wat vir hierdie opstel ter sake is]. 

Stap 6: 

Noudat jy die eerste sin van jou inleiding het, moet jy jou hipotese noem. Sien stap een. My hiposese is: Katte is beter as honde. Nou volg die padkaart van jou opstel. My padkaart is:

  • ʼn Kat se pels is sagter as ʼn hond se pels. 
  • ʼn Kat hardloop vinniger as ʼn hond. 
  • ʼn Kat het ʼn langer stert as ʼn hond.

Stap 7: 

Kombineer jou inleidende sinne, jou hiptese en jou padkaart. My voorbeeld inleiding lyk dan as volg:

Daar is al ʼn eeue oue debat oor watter diere die beste troeteldiere maak. Katte en honde word dikwels met mekaar vergelyk. Hierdie opstel argumenteer dat katte beter troeteldiere is as honde. Daar is verskeie redes hiervoor, maar drie van die hoofredes hoekom katte beter is as honde sluit die volgende in: Eerstens, het katte sagter pelse as honde en daarom is hulle meer aangename troeteldiere om aan te vat. Tweedens, kan honde nie so vinnig soos katte hardloop nie. Katter is dus beter atlete as honde. Laastens, het katte langer sterte as honde

(B) Hoe om ʼn inleiding aan te pak as jy reeds die lyf van jou opstel geskryf het

Soos ek aan die begin genoem het, is dit die metode wat ek verkies. Ek skryf dikwels een die lyf van my opstel en dan pak ek my inleiding aan. Die werksblad is ʼn gids wat jou help om hierdie metode te volg. Vir hierdie metode hou ek daarvan om ʼn bladsy byderhand te hou om op notas te maak. 

Stap 1: 

Lees elkeen van jou lyfparagrawe en som die hoofargument van elke paragraaf in een sin op. As jy ‘n papier langs jou het kan jy sommer dit op hierdie papier aanteken. Jy kan ook die werksblad op die volgende plasing gebruik. Dit is sommer ʼn goeie manier om seker te maak dat elkeen van jou paragrawe slegs een argument bevat. As ek my opstel reg geskryf het, behoort elkeen van my paragrawe die volgende te bespreek:

  • ʼn Kat se pels is sagter as ʼn hond se pels. 
  • ʼn Kat hardloop vinniger as ʼn hond. 
  • ʼn Kat het ʼn langer stert as ʼn hond.

Stap 2: 

Identifiseer jou hipotese. My voorbeeld-hipotese is: Katte is beter as honde. 

Stap 3: 

Skryf ʼn inleidende sin (of twee). Dink in terme van ʼn tregter: van groot na klein. In die in terme van ʼn opstel beteken dit: van die breedste konteks na dit wat vir hierdie opstel ter sake is. Die inleidende sinne van my inleiding van my denkbeeldige opstel sal so iets wees:

  • Daar is ʼn eeue oue debat oor watter diere die beste troeteldiere maak [die breëdste konteks]. Katte en honde word dikwels met mekaar vergelyk [dit wat vir hierdie opstel ter sake is]. 

Stap 4: 

Kombineer nou jou inleidende sinne, jou hipotese en jou padkaart om jou inleiding te vorm. Hier is hoe my inleiding dan sal lyk:

Daar is al ʼn eeue oue debat oor watter diere die beste troeteldiere maak. Katte en honde word dikwels met mekaar vergelyk. Hierdie opstel argumenteer dat katte beter troeteldiere is as honde. Daar is verskeie redes hiervoor, maar drie van die hoofredes hoekom katte beter is as honde sluit die volgende in: Eerstens, het katte sagter pelse as honde en daarom is hulle meer aangename troeteldiere om aan te vat. Tweedens, kan honde nie so vinnig soos katte hardloop nie. Katter is dus beter atlete as honde. Laastens, het katte langer sterte as honde

Let op: In die voorbeeldinleiding hierbo by metode A en metode B maak ek gebruik van skakelwoorde en skakelsinne soos “Eerstens…”; “Tweedens…”; en “Laastens…”. Sien die vorige plasing oor die struktuur van ʼn inleiding om meer hieroor te leer. 

Verwante plasings:
Is jy nog onseker wat ʼn inleiding is? Het jy die hoofargument van jou opstel gekies, maar jy is nog onseker wat ʼn hipotese is? Sal ʼn inleidingwerksblad jou help om aan die gang te kom? Is jy op soek na nog leesstof oor inleidings?

Cat sitting at a roadmap. There is also a compass next to the cat.
Penskets van ‘n kat met ‘n padkaart deur Aletta Simpson

Wat is die struktuur van ʼn inleiding? 

Hierdie plasing sluit aan by die vorige plasings oor hoe om ‘n inleiding vir ‘n akademiese opstel te skryf. Hierdie plasing fokus spesifiek op die ‘padkaart’ van jou opstel wat jy in jou inleiding moet beskryf.

Jou inleiding bestaan uit ʼn hipotese en ʼn ‘padkaart’ van die argumente wat jy in die lyf van jou opstel gaan bespreek. Kom ons kyk weer na die voorbeeldopstel. Die argument wat gevoer word, is: “Katte is beter as honde”. Hier is ʼn paar denkbeeldige redes hoekom katte kan beter wees as honde: 

  1. ʼn Kat se pels is sagter as ʼn hond se pels. 
  2. ʼn Kat hardloop vinniger as ʼn hond. 
  3. ʼn Kat het ʼn langer stert as ʼn hond. 

Noudat jy die hoofargument (Katte is beter as honde) en die kleiner argumente (sien argumente een tot drie hierbo) van jou opstel geïdentifiseer het, kan jy jou inleiding skryf. Jou inleiding sal, sonder woorde wat die gedagtes netjies aan mekaar koppel, as volg lyk: 

Katte is beter as honde. ʼn Kat se pels is sagter as ʼn hond se pels. ʼn Kat hardloop vinniger as ʼn hond. ʼn Kat het ʼn langer stert as ʼn hond. 

Dit is reeds ʼn goeie inleiding, maar ʼn goeie akademiese opstel het nog elemente wat jy in hierdie inleiding moet inwerk:

  • Die skrywer se “stem” wat vir jou leser leiding gee (en in die lyf vir jou leser nuwe insigte aandui). Jou “stem” moet vir jou leser sê: “Jy is nou hier (binne die konteks van hierdie opstel).”
  • Daar moet ook ʼn vloei wees aan die skryfstyl. ʼn Inleidende sin kan met die vloei gehelp. Dit verskaf konteks vir jou leser sodat jy nie net wegtrek met jou argumentvoering nie.
  • Laastens, moet daar ʼn “goue draadjie” wees. Jy het miskien al gehoor van die “goue draadjie”. Dit is eenvoudig net woorde wat verskillende sinne, paragrawe en argumente aan mekaar koppel. Dit sluit woorde/grases soos “en”,  “daarom”, “in vergelyking met”, “in teenstelling” in. 

As ʼn mens nou hierdie drie elemente in ag neem lyk jou inleiding iets as volg (dit wat in vetdruk is, is jou hipotese en ‘padkaart’): 

Daar is ʼn eeue oue debat oor watter diere die beste troeteldiere maak. Katte en honde word dikwels met mekaar vergelyk. Hierdie opstel argumenteer dat katte beter troeteldiere is as honde. Daar is verskeie redes hiervoor, maar drie van die hoofredes hoekom katte beter is as honde sluit die volgende in: Eerstens, het katte sagter pelse as honde en daarom is hulle meer aangename troeteldiere om aan te vat. Tweedens, kan honde nie so vinnig soos katte hardloop nie. Katte is dus beter atlete as honde. Laastens, het katte langer sterte as honde

Let op: Die inhoud van hierdie inleiding is eintlik presies dieselfde as die inhoud van die vorige inleiding, maar met behulp van ʼn inleidende sin (of twee) en frases wat die verskillende gedagtes aan mekaar koppel, is daar heelwat meer vloei. 


Die volgende woorde en frases hierbo dui vir die leser aan “Jy is nou hier.”: 

  • Hierdie opstel argumenteer dat…
  • Daar is verskeie redes hiervoor, maar drie van die hoofredes…
  • Eerstens,…
  • Tweedens,…
  • Laastens,…

Hierdie woorde dien dan ook as ʼn soort “goue draadjie” wat die verskillende gedagtes in die inleiding aan mekaar koppel.

Hierdie inleiding begin minder skielik. Die volgende frase maak dat die inleiding vir die leser minder skielik voorkom: Daar is al ʼn eeue oue debat oor watter diere die beste troeteldiere maak. Katte en honde word dikwels met mekaar vergelyk. Dit is nie die enigste funksie van hierdie sinne nie. Hierdie sinne kontekstualiseer ook die hoofargument van die opstel. Daar word eers na die breër konteks verwys (‘n eeue oue debat) en dan na die spesifieke konteks van dit waaroor die opstel gaan handel (katte en honde wat vergelyk word). 

Kom ons kyk na ʼn voorbeeld van ʼn ‘padkaart’ wat in ʼn gepubliseerde akademiese artikel (Smith, Müller & De Klerk, 2022) verskyn het:

Alvorens die leerders se narratiewe ontleed word, sal die waarde van formatiewe assessering in hierdie artikel aan die hand van die volgende faktore bespreek word: ondersteunende formatiewe assessering, buigsame formatiewe assessering en formatiewe assessering vir selfgerigte leer.

(Smith, Müller & De Klerk, 2022:440)

Ten slotte, kom ons kyk na die verskillende ‘padstops’ wat hierdie ‘padkaart’ vir ons aandui. Volgens die ‘padkaart’ wat in die artikel (Smith, Müller & De Klerk, 2022:440) se inleiding verskyn, gebeur die volgende argumentvoering in die artikel: 

(1) Leerders se narratiewe word ontleed. 

(2) Die waarde van formatiewe assessering word bespreek. 

Laasgenoemde bespreking vind plaas in die volgende kategorieë: 

(2.1) ondersteunende formateiwe assessering, 

(2.2) buigsame formatiewe assessering, en 

(2.3) formatiewe assessering vir selfgerigte leer.

Bronnelys

Smith, N., Müller, M. & De Klerk, E.D. 2022. ʼn Blik op graad 9- Afrikaanse Huistaalleerders se ervaring rakende formatiewe assessering vir taalontwikkeling. Litnet Akademies (Opvoedkunde). 19(1):436-461. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2022/04/LitNet_Akademies_19-1_15_Smith-Muller-deKlerk_436-461.pdf [2022, April 30]. 

Verwante plasings:

Jy is nou reg om jou eie ‘padkaart’ op te stel vir jou opstel. Miskien wil jy volgende lees oor ʼn plan om hierdie ‘padkaart’ mee aan te pak. Is jy nog onseker wat ʼn inleiding is? Het jy die hoofargument van jou opstel gekies, maar jy is nog onseker wat ʼn hipotese is? Sal ʼn inleidingwerksblad jou help om aan die gang te kom? Is jy op soek na nog leesstof oor inleidings?

Picture of a cat pointing at a board with numbering one, two, and three. At each number there is a fish.
Penskets van ‘n kat wat sy opstel beplan deur Aletta Simpson

Wat is ʼn hipotese?

In Engels word ʼn hipotese ʼn thesis statement genoem. Die hipotese is die hoofargument van jou opstel. Dit is iets wat jy kan reg bewys of verkeerd bewys. Hier volg ʼn baie simpel voorbeeld om ʼn hipotese te verduidelik.

Verbeel jou jy het ʼn opstelopdrag gekry. Die opdrag sê die volgende: 

Skryf ʼn argumenterende opstel waarin jy vir of teen die volgende stelling redeneer: “Honde is beter as katte.”

Jy kies om teen hierdie stelling te argumenteer. Met ander woorde, jy gaan in jou akademiese, redenerende opstel bewys dat katte beter is as honde. Jou hipotese is dan: Katte is beter as honde. 

ʼn Hipotese volg dikwels die volgende formaat: X is Y (of X werkwoord Y). Dit kan ook meer kompleks wees. Vir ʼn komplekse onderwerp sal jou hipotese waarskynlik meer lyk soos: X is waar as gevolg van Y en Z. ʼn Hipotese verskyn nie altyd presies in hierdie woorde nie, maar die logika is dieselfde. Kom ons kyk na ʼn paar voorbeelde van hipoteses in gepubliseerde akademiese artikels. Indien die hipotese nie aanvanklik in die X-is-Y-formaat geskryf is nie, is die hipotese in hakkies herrangskik om te wys dat dit dieselfde denkwyse is wat toegepas is.

Hier is ʼn die voorbeelde van hipoteses: 

  1. “In hierdie studie word die gaping in die beskikbare akademiese publikasies oor leerders se ervaringe van formatiewe assessering oorbrug deur ʼn narratiewe ondersoek van graad 9- Afrikaans Huistaalleerders.” (Smith, Müller & De Klerk, 2022:439). (Kom ons stel dit in die formaat X is Y:  ʼn Narratiewe ondersoek van graad 9- Afrikaans Huistaalleerders is ʼn oorbrugging van die gaping in die beskikbare akademiese publikasies oor leerders se ervarings van formatiewe assessering.)
  2. “Die chimeriese aard van groteske ornamente uit die Renaissance en Maniëristiese periodes word hier ondersoek met betrekking tot die manier waarop die grense wat normaalweg die menslike, dierlike, en plantkundige kategorieë duidelik afbaken, daardeur oorskry en ontbind word.” (Liebenberg, 2022:282). (Herskryf as X werkwoord Y: Die chimeriese aard van groteske ornamente uit die Renaissance en Maniëristiese periodes oorskryf en ontbind die grense wat normaalweg die menslike, dierlike en planthundige kategorieë duidelik afbaken.)

En natuurlik…

Katte is beter as honde.

Let wel: ʼn Hipotese is nie noodwendig net een sin nie. Soms is dit moontlik om die hipotese in een sin vas te vang, maar dikwels moet meer as een sin gebruik word.

Verwante plasings:
Is jy besig om ʼn inleiding vir jou opstel te skryf en jy wil graag weet wat ʼn inleiding behels?

Bronnelys

Liebenberg, D. 2022. Chaos en teenstruktuur in Europese groteske ornamente van die 16de en 17de eeue. Litnet Akademies. 19(1): 280-306. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2022/04/LitNet_Akademies_19-1_10_Liebenberg_280-306.pdf [2022, April 30]. 

Smith, N., Müller, M. & De Klerk, E.D. 2022. ʼn Blik op graad 9- Afrikaanse Huistaalleerders se ervaring rakende formatiewe assessering vir taalontwikkeling. Litnet Akademies (Opvoedkunde). 19(1):436-461. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2022/04/LitNet_Akademies_19-1_15_Smith-Muller-deKlerk_436-461.pdf [2022, April 30]. 

A sketch of a cat and a dog with a heart in between.
“Katte is beter as honde”: ‘n Penskets deur Aletta Simpson