Wat is die struktuur van ʼn inleiding? 

Hierdie plasing sluit aan by die vorige plasings oor hoe om ‘n inleiding vir ‘n akademiese opstel te skryf. Hierdie plasing fokus spesifiek op die ‘padkaart’ van jou opstel wat jy in jou inleiding moet beskryf.

Jou inleiding bestaan uit ʼn hipotese en ʼn ‘padkaart’ van die argumente wat jy in die lyf van jou opstel gaan bespreek. Kom ons kyk weer na die voorbeeldopstel. Die argument wat gevoer word, is: “Katte is beter as honde”. Hier is ʼn paar denkbeeldige redes hoekom katte kan beter wees as honde: 

  1. ʼn Kat se pels is sagter as ʼn hond se pels. 
  2. ʼn Kat hardloop vinniger as ʼn hond. 
  3. ʼn Kat het ʼn langer stert as ʼn hond. 

Noudat jy die hoofargument (Katte is beter as honde) en die kleiner argumente (sien argumente een tot drie hierbo) van jou opstel geïdentifiseer het, kan jy jou inleiding skryf. Jou inleiding sal, sonder woorde wat die gedagtes netjies aan mekaar koppel, as volg lyk: 

Katte is beter as honde. ʼn Kat se pels is sagter as ʼn hond se pels. ʼn Kat hardloop vinniger as ʼn hond. ʼn Kat het ʼn langer stert as ʼn hond. 

Dit is reeds ʼn goeie inleiding, maar ʼn goeie akademiese opstel het nog elemente wat jy in hierdie inleiding moet inwerk:

  • Die skrywer se “stem” wat vir jou leser leiding gee (en in die lyf vir jou leser nuwe insigte aandui). Jou “stem” moet vir jou leser sê: “Jy is nou hier (binne die konteks van hierdie opstel).”
  • Daar moet ook ʼn vloei wees aan die skryfstyl. ʼn Inleidende sin kan met die vloei gehelp. Dit verskaf konteks vir jou leser sodat jy nie net wegtrek met jou argumentvoering nie.
  • Laastens, moet daar ʼn “goue draadjie” wees. Jy het miskien al gehoor van die “goue draadjie”. Dit is eenvoudig net woorde wat verskillende sinne, paragrawe en argumente aan mekaar koppel. Dit sluit woorde/grases soos “en”,  “daarom”, “in vergelyking met”, “in teenstelling” in. 

As ʼn mens nou hierdie drie elemente in ag neem lyk jou inleiding iets as volg (dit wat in vetdruk is, is jou hipotese en ‘padkaart’): 

Daar is ʼn eeue oue debat oor watter diere die beste troeteldiere maak. Katte en honde word dikwels met mekaar vergelyk. Hierdie opstel argumenteer dat katte beter troeteldiere is as honde. Daar is verskeie redes hiervoor, maar drie van die hoofredes hoekom katte beter is as honde sluit die volgende in: Eerstens, het katte sagter pelse as honde en daarom is hulle meer aangename troeteldiere om aan te vat. Tweedens, kan honde nie so vinnig soos katte hardloop nie. Katte is dus beter atlete as honde. Laastens, het katte langer sterte as honde

Let op: Die inhoud van hierdie inleiding is eintlik presies dieselfde as die inhoud van die vorige inleiding, maar met behulp van ʼn inleidende sin (of twee) en frases wat die verskillende gedagtes aan mekaar koppel, is daar heelwat meer vloei. 


Die volgende woorde en frases hierbo dui vir die leser aan “Jy is nou hier.”: 

  • Hierdie opstel argumenteer dat…
  • Daar is verskeie redes hiervoor, maar drie van die hoofredes…
  • Eerstens,…
  • Tweedens,…
  • Laastens,…

Hierdie woorde dien dan ook as ʼn soort “goue draadjie” wat die verskillende gedagtes in die inleiding aan mekaar koppel.

Hierdie inleiding begin minder skielik. Die volgende frase maak dat die inleiding vir die leser minder skielik voorkom: Daar is al ʼn eeue oue debat oor watter diere die beste troeteldiere maak. Katte en honde word dikwels met mekaar vergelyk. Dit is nie die enigste funksie van hierdie sinne nie. Hierdie sinne kontekstualiseer ook die hoofargument van die opstel. Daar word eers na die breër konteks verwys (‘n eeue oue debat) en dan na die spesifieke konteks van dit waaroor die opstel gaan handel (katte en honde wat vergelyk word). 

Kom ons kyk na ʼn voorbeeld van ʼn ‘padkaart’ wat in ʼn gepubliseerde akademiese artikel (Smith, Müller & De Klerk, 2022) verskyn het:

Alvorens die leerders se narratiewe ontleed word, sal die waarde van formatiewe assessering in hierdie artikel aan die hand van die volgende faktore bespreek word: ondersteunende formatiewe assessering, buigsame formatiewe assessering en formatiewe assessering vir selfgerigte leer.

(Smith, Müller & De Klerk, 2022:440)

Ten slotte, kom ons kyk na die verskillende ‘padstops’ wat hierdie ‘padkaart’ vir ons aandui. Volgens die ‘padkaart’ wat in die artikel (Smith, Müller & De Klerk, 2022:440) se inleiding verskyn, gebeur die volgende argumentvoering in die artikel: 

(1) Leerders se narratiewe word ontleed. 

(2) Die waarde van formatiewe assessering word bespreek. 

Laasgenoemde bespreking vind plaas in die volgende kategorieë: 

(2.1) ondersteunende formateiwe assessering, 

(2.2) buigsame formatiewe assessering, en 

(2.3) formatiewe assessering vir selfgerigte leer.

Bronnelys

Smith, N., Müller, M. & De Klerk, E.D. 2022. ʼn Blik op graad 9- Afrikaanse Huistaalleerders se ervaring rakende formatiewe assessering vir taalontwikkeling. Litnet Akademies (Opvoedkunde). 19(1):436-461. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2022/04/LitNet_Akademies_19-1_15_Smith-Muller-deKlerk_436-461.pdf [2022, April 30]. 

Verwante plasings:

Jy is nou reg om jou eie ‘padkaart’ op te stel vir jou opstel. Miskien wil jy volgende lees oor ʼn plan om hierdie ‘padkaart’ mee aan te pak. Is jy nog onseker wat ʼn inleiding is? Het jy die hoofargument van jou opstel gekies, maar jy is nog onseker wat ʼn hipotese is? Sal ʼn inleidingwerksblad jou help om aan die gang te kom? Is jy op soek na nog leesstof oor inleidings?

Picture of a cat pointing at a board with numbering one, two, and three. At each number there is a fish.
Penskets van ‘n kat wat sy opstel beplan deur Aletta Simpson

Leave a Reply

Your email address will not be published.