In watter tyd word ʼn inleiding geskryf?

In die inleiding van jou akademiese opstel noem jy jou hipotese en jy noem dit wat jy in die lyf van jou opstel gaan bespreek (die padkaart van jou opstel). Jy gaan verduidelik wat jy nog gaan doen (in die “toekoms” van die opstel), maar jy wonder presies watter werkwoorde jy moet gebruik. Met ander woorde, “gaan” jy iets ondersoek “het” of “ondersoek” jy net iets? Moet jy in die toekomstige, verlede of teenwoordige tyd skryf in jou inleiding? Die kort antwoord is dat ʼn mens in die teenwoordige tyd skryf. Jy “gaan” nie iets ondersoek nie, jy “ondersoek” iets. Jy “gaan” nie iets in die lyf van jou opstel bespreek nie, jy “bespreek” iets. Hierdie plasing ondersoek die inleidings van ‘n akademiese artikel en bespreek in watter tyd daar geskryf is. (Let op hoe die vorige sin die teenwoordige tyd gebruik om te verduidelik wat jy nou in hierdie plasing gaan lees.)

Hierdie uittreksel kom uit die inleiding van Liebenberg (2022:282-283):

“Die chimeriese aard van groteske ornamente uit die Renaissance en Maniëristiese periodes word hier ondersoek met betrekking tot die manier waarop die grense wat normaalweg die menslike, dierlike, en plantkundige kategorieë duidelik afbaken, daardeur oorskry en ontbind word.

Die visuele ontleding van etlike kunsvoorwerpe uit hierdie periodes word verder belig deur ’n literatuurstudie wat, onder andere, verskeie benaderings tot die onderwerp uit die kunsgeskiedenis bespreek. Om redes wat te doen het met die geskiedenis van kunsgeskiedskrywing en verwante velde in die geesteswetenskappe, word die net wyer gegooi om sin te maak van bogenoemde verskynsel. Kunshistorici uit vroeër jare, soos die beroemde Heinrich Wölfflin (1864–1945), was geneig om universele patrone in die verloop van Westerse kunsgeskiedenis in te lees (Wölfflin 1915 [1923-uitgawe]; Gaiger 2002; Gaiger 2015; Newall 2015). Gedurende die 20ste eeu was daar, om verskeie redes, ’n groeiende neiging om sulke universele beginsels te verwerp. ’n Soortgelyke neiging was ’n algemene verskynsel in die geesteswetenskappe gedurende hierdie tydperk, en dit is tot ’n uiterste gedryf deur poststrukturalisme. Poststrukturalistiese antropoloë het byvoorbeeld die ontologiese geldigheid van etnografiese bevindings bevraagteken en aangevoer dat geen twee kulture dus met mekaar vergelyk kan word nie; dat sulke vergelykings bloot ’n manifestasie van Westerse imperialistiese arrogansie is. Maar so ’n radikale kulturele relativisme impliseer dat antropologie as ’n wetenskaplike veld tot niet verklaar moet word, want sonder veralgemenings gebaseer op vergelykende studie kan geen wetenskaplike gevolgtrekkings gemaak word nie (Gregor en Tuzin 2001:5). Hierdie geskiedenis het gelei tot ’n algemene vooroordeel teen vergelykende studie en universele in die geesteswetenskappe, met die gevolg dat byvoorbeeld kunshistorici geneig is om te fokus op die spesifieke kulturele en historiese konteks van hul onderwerp en wyer kulturele patrone te ignoreer. Sulke wyer patrone word gereeld sonder meer verwerp as blote toeval of ’n produk van die navorser se imperialistiese verbeelding (sien bv. Lincoln 2015:447, n 3).” 

Wanneer daar in die inleiding van hierdie artikel wat hierbo aangehaal word, gepraat word van wat die skrywer van die artikel in die lyf van die artikel aangepak het, vind dit in die teenwoordige tyd plaas: 

  • “…word hier ondersoek…”
  • “…word verder belig…”
  • “…word die net wyer gegooi…”

Wanneer daar na vorige ondersoeke deur ander akademici verwys word, vind dit in die verlede tyd plaas: 

  • “Kunshistorici uit vroeër jare, soos die beroemde Heinrich Wölfflin (1864–1945), was geneig om…”
  • “Poststrukturalistiese antropoloë het byvoorbeeld die ontologiese geldigheid van etnografiese bevindings bevraagteken en aangevoer dat geen twee kulture dus met mekaar vergelyk kan word nie; dat sulke vergelykings bloot ’n manifestasie van Westerse imperialistiese arrogansie is.”

As daar verwys word na ondersoeke wat tans deur ander akademici gedoen word, is dit in die teenwoordige tyd. Let byvoorbeeld op die volgende aanhaling. Die teenwoordige tyd en die verlede tyd word gemeng afhangende van of daar na ondersoeke van die verlede of die hede verwys word:

  • “Hierdie geskiedenis het gelei tot ’n algemene vooroordeel teen vergelykende studie en universele in die geesteswetenskappe, met die gevolg dat byvoorbeeld kunshistorici geneig is om te fokus op die spesifieke kulturele en historiese konteks van hul onderwerp en wyer kulturele patrone te ignoreer.”

Bronnelys:

Liebenberg, D. 2022. Chaos en teenstruktuur in Europese groteske ornamente van die 16de en 17de eeue. Litnet Akademies. 19(1): 280-306. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2022/04/LitNet_Akademies_19-1_10_Liebenberg_280-306.pdf [2022, April 30].

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *