Hoe skryf ʼn mens ʼn akademiese gevolgtrekking? Hoe verduidelik ʼn mens vir iemand hoe om ʼn akademiese gevolgtrekking te skryf? Hier is ʼn paar plasings wat op Skryf Afrikaans beskikbaar is:
Indien jy nog vrae het oor hoe om ʼn gevolgtrekking te skryf wat nie in hierdie plasings beantwoord word nie, voorstelle wil maak of foutjies raaksien, sal ek graag van jou wil hoor! Jy kan my hier kontak.
Skryf Afrikaans is ʼn skryfblog waarop daar onder meer in Afrikaans inhoud oor hoe om ʼn akademiese opstel te skryf, geplaas word. Kyk onder “Kategorieë” en kliek “Gevolgrekking” om Skryf Afrikaans se Afrikaanse plasings te lees oor hoe om ʼn akademiese opstel te skryf. Indien jy voel jy wil nog lees oor hoe om ʼn gevolgtrekking te skryf, is hier ʼn paar plasings op Engelse webtuistes wat jy kan lees:
Global Campus – Hierdie bron verduidelik die tregter-metode en verduidelik ook hoe om ʼn gevolgtrekking te skryf.
Indeed – Hierdie bron het ʼn paar wenke wat nog nie op Skryf Afrikaans bespreek is nie. Daar word, omder meer, ook drie verskillende tipes gevolgtrekkings bespreek.
Grammarly – Hierdie bron is ʼn lekker bron vir die student wat reeds die plasings oor die gevolgtrekking op Skryf Afrikaans gelees en bemeester het en nog wil verbeter.
Scribbr – Hierdie bron is ʼn interaktief. Dit is amper soos ʼn klein aanlyn werkswinkel vir hoe om ʼn gevolgtrekking te skryf. Daar is ook ʼn goeie video wat ʼn student sou kon kyk.
Hierdie plasing bevat ʼn stel skyfies vir mense wat vir studente en naskoolse studente moet leer hoe om ʼn gevolgtrekking te skryf. Die skyfies bevat die inhoud van Skryf Afrikaans se plasings oor hoe om ʼn gevolgtrekking te skryf. Die skyfies is gratis en jy is vry om dit te gebruik. Ek vra wel dat jy, waar toepaslik, sal noem dat dit SkryfAfrikaans.com se inhoud is en dit veral sal aanbeveel vir vriende en kollegas wat ook kan baat by hierdie skyfies. Ek is beskikbaar vir terugvoer en navrae oor verdere inhoud. Ek hoor graag van jou! Hier kan jy my kontak.
Hier is ʼn paar uittreksels uit ʼn akademiese artikel. Dit is nie die volledige inleiding en gevolgtrekking wat bespreek word nie, maar slegs die dele van hierdie inleiding en gevolgtrekking wat noodsaaklik (en genoeg is) vir ʼn eenvoudige akademiese opstel (op skool/voorgraadse vlak). Die artikel wat bespreek word is Kotzé en Van Niekerk (2022) se artikel oor “nostalgiegedrewe advertensies in Suid-Afrikaanse tydskrifte”. Daar word baie tegniese terme en groot woorde gebruik in hierdie artikel. Moenie bekommerd wees as jy nie alles verstaan nie. Ons kyk na hóé daar geskryf is en nie wát daar geskryf is nie.
Die inleiding van Kotzé en Van Niekerk (2022)
Ons gaan eers kyk na die inleiding om die hipotese en die ‘padkaart’ te identifiseer en dan gaan ons kyk na die gevolgtrekking en hoe die gevolgtrekking hierdie hipotese en ‘padkaart’ verwoord en struktureer.
Hipotese (onttrek uit die inleiding uit):
“Hierdie ondersoek oor nostalgie as aandagpunt in gedrukte-advertensie-kommunikasie het ten doel om uit te brei op die bestaande (erkende) kategorieë nostalgiese verteenwoordiging (mense, artefakte en gebeurtenisse) soos deur Stewart (1984), Holak en Havlena (1992), Bessière (2013) en Vignolles en Pichon (2014) geïdentifiseer.” (Kotzé & Van Niekerk, 2022:3).
Die hipotese is dus dat gedrukte advertensies in Suid-Afrikaanse tydskrifte drie bekende eienskappe van nostagie bevat (“mense, artefakte en gebeurtenisse”) en nog ander wat Kotzé en Van Niekerk raaksien wanneer hulle in diepte gaan kyk na hierdie advertensies. Hierdie ‘ander’ eienskappe van nostalgie wat die skrywers ontdek, is dan die bydra wat hierdie artikel tot die studie van Suid-Afrikaanse media en die studie van nostalgie maak.
Die padkaart (onttrek uit die inleiding uit):
“Aan die hand van ’n ontledingsraamwerk in afdeling 6 van die artikel wat die kenmerke van advertensies as genre en die insigte uit die Sosiale Representasie-teorie (SRT) insluit, sal daar dan empiries toegevoeg kan word tot die bestaande kategorieë nostalgiese verteenwoordiging.” (Kotzé & Van Niekerk, 2022:3).
Die sinne wat die ‘padkaart’ bespreek gebruik werkwoorde soos “getoets”, “toegelig”, “ontleed”, “verwys”.
Die ‘pad’ wat hierdie skrywers gevolg het, en wat dan in hul inleiding beskryf word is om op twee maniere na Suid-Afrikaanse gedrukte advertensies te kyk. Die eerste manier is om uit te ken hoe die Sosiale Representasie-teorie ʼn mens sou kon help om die advertensies te verstaan en die tweede manier is om te kyk watter nuwe kenmerke hulle raaksien in verband met nostalgie en hoe dit in die advertensies voorkom. Omdat die kenmerke van advertensies (soos deur die Sosiale-Representasie-teorie verwoord) en die kenmerke wat hierdie skrywers raaksien baie kompleks is, word hulle nie ten volle hier genoem nie omdat dit slegs die padkaart is wat in die inleiding bespreek word.
Die gevolgtrekking van Kotzé en Van Niekerk (2022)
Uittreksel uit die gevolgtrekking:
“Aan die hand van die konseptuele ontledingsmodel in Van Niekerk (2021) is drie nuwe kategorieë nostalgiese merkers getoets en met voorbeelde toegelig. Die voorbeelde in drie nuwe kategorieë, naamlik fisiese voorkoms, tydsverloop en kultuurerfenis is volgens die ontledingsmodel in afdeling 6 ontleed deur spesifiek na bepaalde elemente (gelys b, c, d) van advertensiekommunikasie en na objektivering as deelteoretiese konstruk binne die Sosiale Representasie-teorie (SRT) te verwys. […] Hierdie ondersoek het wel die geldigheid van die konseptuele ontledingsmodel soos bespreek in Van Niekerk (2021) bevestig wat betref die bewese uitbreiding op die bekende kategorieë nostalgiese verteenwoordiging (mense, artefakte en gebeurtenisse) om nou ook fisiese voorkoms, tydsverloop en kultuurerfenis in te sluit.” (Kotzé & Van Niekerk, 2022:37).
ʼn Vergelyking tussen die inleiding en die gevolgtrekking
Let op hoe die gevolgtrekking begin met die ‘padkaart’ (teenoor die inleiding wat begin het met die hipotese) en dan terugverwys na die hipotese. Die sinne wat die ‘padkaart’ bespreek gebruik werkwoorde soos “getoets”, “toegelig”, “ontleed”, “verwys”. Die sin wat terugverwys na die hipotese verduidelik dat “[…] die geldigheid […] bevestig” is terwyl die hipotese in die inleiding gesê het dat die doelwit van die artikel was om dit te bevestig.
Die gevolgtrekking van jou opstel is veronderstel om ʼn spieëlbeeld van jou inleiding te wees. Jy kan ook aan jou inleiding en gevolgtrekking dink as die bookstutte (“bookends”) van jou opstel. Hierdie plasing gaan verduidelik wat hiermee bedoel word en hoe om jou gevolgtrekking te skryf na aanleiding van jou inleiding.
Die Universiteit van Arizone het ʼn webblad, Global Campus (Introductions and Conclusions, 2021). Hierdie webblad verduidelik hoe ʼn inleiding van ʼn gevolgtrekking verskil. Hulle gebruik die tregter-metode. Die tregter-metode is wanneer jy by die breedste konteks begin en werk na die mees spesifieke gegewens. Dis nou as jy ʼn inleiding skryf. Global Campus wys dat wanneer jy ʼn gevolgtrekking skryf draai jy die tregter op sy kop.
Die inleiding
ʼn Inleiding kan as volg voorgestel word volgens die tregter-metode:
As jy die plasings oor inleiding gaan lees, sal jy agterkom dat die inleiding van ʼn opstel hoofsaaklik bestaan uit die hipotese en die ‘padkaart’ van die opstel. Die ‘padkaart’ is die verskillende argumente wat jy in die opstel gaan voer om die hipotese te bewys. So word die inleiding dan gestruktureer:
Die gevolgtrekking
Die gevolgtrekking van jou opstel is veronderstel om ʼn spieëlbeeld van jou inleiding te wees.
Die struktuur van ʼn gevolgtrekking is die teenoorgestelde van die struktuur van ʼn inleiding:
In ʼn inleiding noem jy jou hipotese en verduidelik die ‘pad’ wat die opstel gaan volg. Met jou gevolgtrekking verduidelik jy wat die ‘pad’ is wat jou opstel gevolg het. Die ‘eindbestemming’ is dan jou hipotese wat as ʼn stelling geformuleer is:
ʼn Bespreek van ʼn voorbeeld van ʼn regte gevolgtrekking uit ʼn akademiese artikel uit is die plasing wat hierop volg.
Die maklikste manier om jou gevolgtrekking te skryf is om eers jou inleiding te skryf. Skryf Afrikaans het al ʼn paar plasings oor hoe om ʼn inleiding te skryf wat jou daarmee kan help. Jou gevolgtrekking is veronderstel om ʼn spieëlbeeld te wees van jou inleiding.
Verbeel jou ons skryf saam ʼn opstel. Die voorbeelopstel wat ons aan die skryf is, Katte is beter as honde, se inleiding is as volg:
Daar is ʼn eeue oue debat oor watter diere die beste troeteldiere maak. Katte en honde word dikwels met mekaar vergelyk. Hierdie opstel argumenteer dat katte beter troeteldiere is as honde. Daar is verskeie redes hiervoor, maar drie van die hoofredes hoekom katte beter is as honde sluit die volgende in: Eerstens, het katte sagter pelse as honde en daarom is hulle meer aangename troeteldiere om aan te vat. Tweedens, kan honde nie so vinnig soos katte hardloop nie. Katte is dus beter atlete as honde. Laastens, het katte langer sterte as honde.
Om te verstaan hoe hierdie inleiding geskryf is, gaan kyk na hierdie plasing.
Kom ons breek hierdie opstel weer in kleiner dele op. Die hipotese: Katte is beter as honde. Dit is ook die hoofargument. Dan volg daar die drie kleiner argumente:
ʼn Kat se pels is sagter as ʼn hond se pels.
ʼn Kat hardloop vinniger as ʼn hond.
ʼn Kat het ʼn langer stert as ʼn hond.
Nou as ʼn mens in gedagte hou dat die gevolgtrekking van ʼn akademiese opstel ʼn spieëlbeeld moet wees van die inleiding van jou opstel dan moet die gevolgtrekking dieselfde hipotese en kleiner argumente bevat. Die struktuur van ʼn inleiding is as volg: Die hipotese en die pad wat jy gaan volg (die ‘padkaart’) om die hipotese te bewys. Die struktuur van ʼn gevolgtrekking is as volg: Die pad wat jy gevolg het (die ‘padkaart’) en die eindbestemming (die hipotese).
Die voorbeeldopstel se gevolgtrekking sal dus so lyk:
Vanuit die bostaande bespreking is dit duidelik dat katte sagter pelse het as honde en daarom is hulle meer aangename troeteldiere om aan te vat. Honde kan nie so vinnig soos katte hardloop nie. Katte is dus beter atlete as honde. Katte het langer sterte as honde. As al hierdie feite in ag geneem word, blyk dit dat katte beter troeteldiere is as honde.
Hier volg binnekort ʼn plasing wat ʼn voorbeeld van ʼn regte gevolgtrekking van ʼn akademiese artikel ontleed en uitwys hoe die hipotese en padkaart in die gevolgtrekking voorkom.
ʼn Gevolgtrekking van ʼn akademiese opstel is die laaste paragraaf van die opstel. Dit is ʼn opsomming van wat jy in die lyf van jou opstel geskryf het en die argumente wat jy voer in jou opstel. As jou leser jou opstel se inleiding en gevolgtrekking gelees het, is hulle veronderstel om presies te weet waaroor jou opstel gaan. Nes jou inleiding, bevat jou gevolgtrekking ook geen nuwe informasie nie. Dit is slegs ʼn samevatting van wat jy in die res van jou opstel bespreek het en hoe jy jou hipotese bewys het.
Wat moet jy in gedagte hou wanneer jy ʼn gevolgtrekking skryf?
Wat is die ‘padkaart’ wat jou opstel volg? Jou gevolgtrekking moet jou leser herinner wat die ‘padstops’ is wat jy in die lyf van jou opstel maak. Jou gevolgtrekking moet vir jou leser weer die ‘padkaart’ opsom van jou opstel. Met ander woorde, jou gevolgtrekking moet ʼn opsomming wees van al die argumente wat jy in jou opstel bespreek het.
Wat is die hoofargument van jou opstel? Met ander woorde, wat was jou hipotese of jou “thesis statement” (wat jy ook in jou inleiding noem).
Het jy ʼn voorbeeld of ʼn voorbeeldteks bespreek bespreek in jou opstel? Noem hierdie voorbeeld in jou gevolgtrekking. Dit is tog een van die ‘padstops’ wat jy gemaak het.
As jy hierdie vrae kan beantwoord, is jy reg om jou gevolgtrekking aan te pak.
As jy hierdie vrae kan beantwoord, is jy reg om jou gevolgtrekking aan te pak. Jou gevolgtrekking is die spieëlbeel van jou inleiding. Daar sal ʼn volgende plasing wees oor hoe ʼn inleiding en ʼn gevolgtrekking verskil en wat hulle in gemeen het.
Let wel: Daar is ʼn verskil tussen ʼn gevolgtrekking en ʼn slot of samevatting. ʼn Gevolgtrekking is die laaste paragraaf van ʼn argumenterende opstel. Dit som op hoe jy jou hipotese bewys het. ʼn Slot of ʼn samevatting is slegs ʼn opsomming van dit wat bespreek is. Daar word nie iets nuuts geargumenteer of bewys in ʼn opstel wat ʼn slot of ʼn samevatting het nie.