Skryf Afrikaans is ʼn skryfblog waarop daar onder meer in Afrikaans inhoud oor hoe om ʼn akademiese opstel te skryf, geplaas word. Kyk onder “Kategorieë” en kliek “Inleiding” om Skryf Afrikaans se Afrikaanse plasings te lees oor hoe om ʼn akademiese opstel te skryf. Indien jy voel jy wil nog lees oor hoe om ʼn inleiding te skryf, is hier ʼn paar plasings op Engelse webtuistes wat jy kan lees:
Grammarly – Hierdie bron het ʼn interessante invalshoek: Met jou inleiding moet jy die vraag “Hoekom moet ek hierdie opstel lees?” beantwoord.
Scribbr – Hierdie bron werk met die beginsel dat jou inleiding ʼn “hook” (inleidende sin), konteks, hipotese en “structure review” (die ‘padkaart’) moet bevat. Daar is ook ʼn lekker voorbeeld van hoe ʼn inleiding moet lyk.
Global Campus – Hierdie bron verduidelik die tregter-metode en verduidelik ook hoe om ʼn gevolgtrekking te skryf. Hier volg binnekort ʼn paar plasings op Skryf Afrikaans wat verduidelik hoe om die gevolgtrekking aan te pak.
Hierdie plasing bevat ʼn stel skyfies vir mense wat vir studente en naskoolse studente moet leer hoe om ʼn inleiding te skryf. Die skyfies bevat die inhoud van Skryf Afrikaans se plasings oor hoe om ʼn inleiding te skryf. Die skyfies is gratis en jy is vry om dit te gebruik. Ek vra wel dat jy, waar toepaslik, sal noem dat dit Skryfafrikaans.com se inhoud is en dit veral sal aanbeveel vir vriende en kollegas wat ook kan baat by hierdie skyfies. Ek is beskikbaar vir terugvoer en navrae oor verdere inhoud. Ek hoor graag van jou! Hier kan jy my kontak.
Hierdie plasing bevat ʼn inleidingwerksblad wat jy kan gebruik om jou te help om die inleiding van jou opstel te skryf. Dit is handig vir wanneer jy reeds jou navorsing gedoen het en reeds die lyf van jou opstel geskryf het. Met ander woorde, hierdie metode is vir skrywers wat hulle inleiding laaste skryf. Sien metode B van die plasing oor ʼn plan om ʼn inleiding mee aan te pak.
Indien jy ʼn opvoedkundige is, is hierdie ʼn handige werksblad om vir die studente te gee wat moet leer hoe om ʼn inleiding te skryf.
In die inleiding van jou akademiese opstel noem jy jou hipotese en jy noem dit wat jy in die lyf van jou opstel gaan bespreek (die padkaart van jou opstel). Jy gaan verduidelik wat jy nog gaan doen (in die “toekoms” van die opstel), maar jy wonder presies watter werkwoorde jy moet gebruik. Met ander woorde, “gaan” jy iets ondersoek “het” of “ondersoek” jy net iets? Moet jy in die toekomstige, verlede of teenwoordige tyd skryf in jou inleiding? Die kort antwoord is dat ʼn mens in die teenwoordige tyd skryf. Jy “gaan” nie iets ondersoek nie, jy “ondersoek” iets. Jy “gaan” nie iets in die lyf van jou opstel bespreek nie, jy “bespreek” iets. Hierdie plasing ondersoek die inleidings van ‘n akademiese artikel en bespreek in watter tyd daar geskryf is. (Let op hoe die vorige sin die teenwoordige tyd gebruik om te verduidelik wat jy nou in hierdie plasing gaan lees.)
Hierdie uittreksel kom uit die inleiding van Liebenberg (2022:282-283):
“Die chimeriese aard van groteske ornamente uit die Renaissance en Maniëristiese periodes word hier ondersoek met betrekking tot die manier waarop die grense wat normaalweg die menslike, dierlike, en plantkundige kategorieë duidelik afbaken, daardeur oorskry en ontbind word.
Die visuele ontleding van etlike kunsvoorwerpe uit hierdie periodes word verder belig deur ’n literatuurstudie wat, onder andere, verskeie benaderings tot die onderwerp uit die kunsgeskiedenis bespreek. Om redes wat te doen het met die geskiedenis van kunsgeskiedskrywing en verwante velde in die geesteswetenskappe, word die net wyer gegooi om sin te maak van bogenoemde verskynsel. Kunshistorici uit vroeër jare, soos die beroemde Heinrich Wölfflin (1864–1945), was geneig om universele patrone in die verloop van Westerse kunsgeskiedenis in te lees (Wölfflin 1915 [1923-uitgawe]; Gaiger 2002; Gaiger 2015; Newall 2015). Gedurende die 20ste eeu was daar, om verskeie redes, ’n groeiende neiging om sulke universele beginsels te verwerp. ’n Soortgelyke neiging was ’n algemene verskynsel in die geesteswetenskappe gedurende hierdie tydperk, en dit is tot ’n uiterste gedryf deur poststrukturalisme. Poststrukturalistiese antropoloë het byvoorbeeld die ontologiese geldigheid van etnografiese bevindings bevraagteken en aangevoer dat geen twee kulture dus met mekaar vergelyk kan word nie; dat sulke vergelykings bloot ’n manifestasie van Westerse imperialistiese arrogansie is. Maar so ’n radikale kulturele relativisme impliseer dat antropologie as ’n wetenskaplike veld tot niet verklaar moet word, want sonder veralgemenings gebaseer op vergelykende studie kan geen wetenskaplike gevolgtrekkings gemaak word nie (Gregor en Tuzin 2001:5). Hierdie geskiedenis het gelei tot ’n algemene vooroordeel teen vergelykende studie en universele in die geesteswetenskappe, met die gevolg dat byvoorbeeld kunshistorici geneig is om te fokus op die spesifieke kulturele en historiese konteks van hul onderwerp en wyer kulturele patrone te ignoreer. Sulke wyer patrone word gereeld sonder meer verwerp as blote toeval of ’n produk van die navorser se imperialistiese verbeelding (sien bv. Lincoln 2015:447, n 3).”
Wanneer daar in die inleiding van hierdie artikel wat hierbo aangehaal word, gepraat word van wat die skrywer van die artikel in die lyf van die artikel aangepak het, vind dit in die teenwoordige tyd plaas:
“…word hier ondersoek…”
“…word verder belig…”
“…word die net wyer gegooi…”
Wanneer daar na vorige ondersoeke deur ander akademici verwys word, vind dit in die verlede tyd plaas:
“Kunshistorici uit vroeër jare, soos die beroemde Heinrich Wölfflin (1864–1945), was geneig om…”
“Poststrukturalistiese antropoloë het byvoorbeeld die ontologiese geldigheid van etnografiese bevindings bevraagteken en aangevoer dat geen twee kulture dus met mekaar vergelyk kan word nie; dat sulke vergelykings bloot ’n manifestasie van Westerse imperialistiese arrogansie is.”
As daar verwys word na ondersoeke wat tans deur ander akademici gedoen word, is dit in die teenwoordige tyd. Let byvoorbeeld op die volgende aanhaling. Die teenwoordige tyd en die verlede tyd word gemeng afhangende van of daar na ondersoeke van die verlede of die hede verwys word:
“Hierdie geskiedenis het gelei tot ’n algemene vooroordeel teen vergelykende studie en universele in die geesteswetenskappe, met die gevolg dat byvoorbeeld kunshistorici geneig is om te fokus op die spesifieke kulturele en historiese konteks van hul onderwerp en wyer kulturele patrone te ignoreer.”
Jou inleiding is die eerste paragraaf van jou opstel, dit bevat ʼn hipotese en ʼn padkaart. Hierdie plasing gaan oor die inhoud van ʼn inleiding en hoe om dit te beplan. Hierdie plasing word in twee gedeel: (A) Hoe om ʼn inleiding te beplan voordat jy die res van jou opstel begin skryf het en (B) hoe om jou inleiding te beplan as jy alreeds die res van jou opstel geskryf het. Ek verkies dit om my inleiding te skryf as ek reeds die res van my opstel geskryf het, maar skryfstyle verskil en miskien verkies jy dit om jou inleiding te skryf voor jy die res van jou opstel aanpak.
(A) Hoe om ʼn inleiding te beplan voordat jy die res van jou opstel begin skryf het
Lewis Carrol het geskryf: “Begin at the beginning.” Hier volg ʼn plan om ʼn inleiding te beplan voordat jy die lyf van jou opstel skryf.
Stap 1:
Identifiseer jouhipotese. My voorbeeld-hipotese is: Katte is beter as honde.
Stap 2:
Vra jy jouself af hoekom jou hipotese waar is. Die vraag lyk so: Hoekom [hipotese]? Of in hierdie geval: Hoekom is katte beter as honde?
Stap 3:
Lys moontlike antwoorde op jou vraag (dit vorm jou moontlike argumente) om jou hipotese te staaf. Miskien het jy al oor hierdie onderwerp opgelees en sal jy maklik ʼn hele lys redes kan noem. Indien jy nog nie hierdie vraag kan beantwoord nie, is dit ʼn goeie idee om verder te gaan lees oor hierdie onderwerp. In die geval van ons voorbeeld sou ʼn mens die volgende argumente kon oorweeg (Let wel: hierdie is almal denkbeeldige argumente):
Katte is kleiner as honde.
Katte het ʼn sagter pels as honde.
Katte maak minder geraas as honde.
Katte eet minder as honde.
Katte hardloop vinniger as honde.
Katte het langer sterkte as honde.
Stap 4:
Identifiseer die argumente wat die mees oortuigend is. Maak seker dat daar ook vir hierdie (akademiese) bronne beskikbaar is. (Wanneer jy jou lyf van jou opstel skryf gaan dit jou baie help as daar bronne oor jou argumente beskikbaar is). Vir my voorbeeld identifiseer ek dan die volgende argumente:
ʼn Kat se pels is sagter as ʼn hond se pels.
ʼn Kat hardloop vinniger as ʼn hond.
ʼn Kat het ʼn langer stert as ʼn hond.
Stap 5:
Skryf ʼn inleidende sin (of twee). Dink in terme van ʼn tregter: van groot na klein. In die in terme van ʼn opstel beteken dit: van die breedste konteks na dit wat vir hierdie opstel ter sake is. Die inleidende sinne van my inleiding van my denkbeeldige opstel sal so iets wees:
Daar is ʼn eeue oue debat oor watter diere die beste troeteldiere maak [die breëdste konteks]. Katte en honde word dikwels met mekaar vergelyk [dit wat vir hierdie opstel ter sake is].
Stap 6:
Noudat jy die eerste sin van jou inleiding het, moet jy jou hipotese noem. Sien stap een. My hiposese is: Katte is beter as honde. Nou volg die padkaart van jou opstel. My padkaart is:
ʼn Kat se pels is sagter as ʼn hond se pels.
ʼn Kat hardloop vinniger as ʼn hond.
ʼn Kat het ʼn langer stert as ʼn hond.
Stap 7:
Kombineer jou inleidende sinne, jou hiptese en jou padkaart. My voorbeeld inleiding lyk dan as volg:
Daar is al ʼn eeue oue debat oor watter diere die beste troeteldiere maak. Katte en honde word dikwels met mekaar vergelyk. Hierdie opstel argumenteer dat kattebetertroeteldiereisashonde. Daar is verskeie redes hiervoor, maar drie van die hoofredes hoekom katte beter is as honde sluit die volgende in: Eerstens, het katte sagter pelse as honde en daarom is hulle meer aangename troeteldiere om aan te vat. Tweedens, kanhonde nie so vinnig soos katte hardloop nie. Katter is dus beter atlete as honde. Laastens, het katte langer sterte as honde.
(B) Hoe om ʼn inleiding aan te pak as jy reeds die lyf van jou opstel geskryf het
Soos ek aan die begin genoem het, is dit die metode wat ek verkies. Ek skryf dikwels een die lyf van my opstel en dan pak ek my inleiding aan. Die werksblad is ʼn gids wat jou help om hierdie metode te volg. Vir hierdie metode hou ek daarvan om ʼn bladsy byderhand te hou om op notas te maak.
Stap 1:
Lees elkeen van jou lyfparagrawe en som die hoofargument van elke paragraaf in een sin op. As jy ‘n papier langs jou het kan jy sommer dit op hierdie papier aanteken. Jy kan ook die werksblad op die volgende plasing gebruik. Dit is sommer ʼn goeie manier om seker te maak dat elkeen van jou paragrawe slegs een argument bevat. As ek my opstel reg geskryf het, behoort elkeen van my paragrawe die volgende te bespreek:
ʼn Kat se pels is sagter as ʼn hond se pels.
ʼn Kat hardloop vinniger as ʼn hond.
ʼn Kat het ʼn langer stert as ʼn hond.
Stap 2:
Identifiseer jou hipotese. My voorbeeld-hipotese is: Katte is beter as honde.
Stap 3:
Skryf ʼn inleidende sin (of twee). Dink in terme van ʼn tregter: van groot na klein. In die in terme van ʼn opstel beteken dit: van die breedste konteks na dit wat vir hierdie opstel ter sake is. Die inleidende sinne van my inleiding van my denkbeeldige opstel sal so iets wees:
Daar is ʼn eeue oue debat oor watter diere die beste troeteldiere maak [die breëdste konteks]. Katte en honde word dikwels met mekaar vergelyk [dit wat vir hierdie opstel ter sake is].
Stap 4:
Kombineer nou jou inleidende sinne, jou hipotese en jou padkaart om jou inleiding te vorm. Hier is hoe my inleiding dan sal lyk:
Daar is al ʼn eeue oue debat oor watter diere die beste troeteldiere maak. Katte en honde word dikwels met mekaar vergelyk. Hierdie opstel argumenteer dat kattebetertroeteldiereisashonde. Daar is verskeie redes hiervoor, maar drie van die hoofredes hoekom katte beter is as honde sluit die volgende in: Eerstens, het katte sagter pelse as honde en daarom is hulle meer aangename troeteldiere om aan te vat. Tweedens, kanhonde nie so vinnig soos katte hardloop nie. Katter is dus beter atlete as honde. Laastens, het katte langer sterte as honde.
Let op: In die voorbeeldinleiding hierbo by metode A en metode B maak ek gebruik van skakelwoorde en skakelsinne soos “Eerstens…”; “Tweedens…”; en “Laastens…”. Sien die vorige plasing oor die struktuur van ʼn inleiding om meer hieroor te leer.
Verwante plasings: Is jy nog onseker wat ʼn inleiding is? Het jy die hoofargument van jou opstel gekies, maar jy is nog onseker wat ʼn hipotese is? Sal ʼn inleidingwerksblad jou help om aan die gang te kom? Is jy op soek na nog leesstof oor inleidings?
Hierdie plasing sluit aan by die vorige plasings oor hoe om ‘n inleiding vir ‘n akademiese opstel te skryf. Hierdie plasing fokus spesifiek op die ‘padkaart’ van jou opstel wat jy in jou inleiding moet beskryf.
Jou inleiding bestaan uit ʼn hipotese en ʼn ‘padkaart’ van die argumente wat jy in die lyf van jou opstel gaan bespreek. Kom ons kyk weer na die voorbeeldopstel. Die argument wat gevoer word, is: “Katte is beter as honde”. Hier is ʼn paar denkbeeldige redes hoekom katte kan beter wees as honde:
ʼn Kat se pels is sagter as ʼn hond se pels.
ʼn Kat hardloop vinniger as ʼn hond.
ʼn Kat het ʼn langer stert as ʼn hond.
Noudat jy die hoofargument (Katte is beter as honde) en die kleiner argumente (sien argumente een tot drie hierbo) van jou opstel geïdentifiseer het, kan jy jou inleiding skryf. Jou inleiding sal, sonder woorde wat die gedagtes netjies aan mekaar koppel, as volg lyk:
Katte is beter as honde. ʼn Kat se pels is sagter as ʼn hond se pels. ʼn Kat hardloop vinniger as ʼn hond. ʼn Kat het ʼn langer stert as ʼn hond.
Dit is reeds ʼn goeie inleiding, maar ʼn goeie akademiese opstel het nog elemente wat jy in hierdie inleiding moet inwerk:
Die skrywer se “stem” wat vir jou leser leiding gee (en in die lyf vir jou leser nuwe insigte aandui). Jou “stem” moet vir jou leser sê: “Jy is nou hier (binne die konteks van hierdie opstel).”
Daar moet ook ʼn vloei wees aan die skryfstyl. ʼn Inleidende sin kan met die vloei gehelp. Dit verskaf konteks vir jou leser sodat jy nie net wegtrek met jou argumentvoering nie.
Laastens, moet daar ʼn “goue draadjie” wees. Jy het miskien al gehoor van die “goue draadjie”. Dit is eenvoudig net woorde wat verskillende sinne, paragrawe en argumente aan mekaar koppel. Dit sluit woorde/grases soos “en”, “daarom”, “in vergelyking met”, “in teenstelling” in.
As ʼn mens nou hierdie drie elemente in ag neem lyk jou inleiding iets as volg (dit wat in vetdruk is, is jou hipotese en ‘padkaart’):
Daar is ʼn eeue oue debat oor watter diere die beste troeteldiere maak. Katte en honde word dikwels met mekaar vergelyk. Hierdie opstel argumenteer dat kattebetertroeteldiereisashonde. Daar is verskeie redes hiervoor, maar drie van die hoofredes hoekom katte beter is as honde sluit die volgende in: Eerstens, het katte sagter pelse as honde en daarom is hulle meer aangename troeteldiere om aan te vat. Tweedens, kanhonde nie so vinnig soos katte hardloop nie. Katte is dus beter atlete as honde. Laastens, het katte langer sterte as honde.
Let op: Die inhoud van hierdie inleiding is eintlik presies dieselfde as die inhoud van die vorige inleiding, maar met behulp van ʼn inleidende sin (of twee) en frases wat die verskillende gedagtes aan mekaar koppel, is daar heelwat meer vloei.
Die volgende woorde en frases hierbo dui vir die leser aan “Jy is nou hier.”:
Hierdie opstel argumenteer dat…
Daar is verskeie redes hiervoor, maar drie van die hoofredes…
Eerstens,…
Tweedens,…
Laastens,…
Hierdie woorde dien dan ook as ʼn soort “goue draadjie” wat die verskillende gedagtes in die inleiding aan mekaar koppel.
Hierdie inleiding begin minder skielik. Die volgende frase maak dat die inleiding vir die leser minder skielik voorkom: Daar is al ʼn eeue oue debat oor watter diere die beste troeteldiere maak. Katte en honde word dikwels met mekaar vergelyk. Dit is nie die enigste funksie van hierdie sinne nie. Hierdie sinne kontekstualiseer ook die hoofargument van die opstel. Daar word eers na die breër konteks verwys (‘n eeue oue debat) en dan na die spesifieke konteks van dit waaroor die opstel gaan handel (katte en honde wat vergelyk word).
Kom ons kyk na ʼn voorbeeld van ʼn ‘padkaart’ wat in ʼn gepubliseerde akademiese artikel (Smith, Müller & De Klerk, 2022) verskyn het:
Alvorens die leerders se narratiewe ontleed word, sal die waarde van formatiewe assessering in hierdie artikel aan die hand van die volgende faktore bespreek word: ondersteunende formatiewe assessering, buigsame formatiewe assessering en formatiewe assessering vir selfgerigte leer.
(Smith, Müller & De Klerk, 2022:440)
Ten slotte, kom ons kyk na die verskillende ‘padstops’ wat hierdie ‘padkaart’ vir ons aandui. Volgens die ‘padkaart’ wat in die artikel (Smith, Müller & De Klerk, 2022:440) se inleiding verskyn, gebeur die volgende argumentvoering in die artikel:
(1) Leerders se narratiewe word ontleed.
(2) Die waarde van formatiewe assessering word bespreek.
Laasgenoemde bespreking vind plaas in die volgende kategorieë:
(2.1) ondersteunende formateiwe assessering,
(2.2) buigsame formatiewe assessering, en
(2.3) formatiewe assessering vir selfgerigte leer.
Jy is nou reg om jou eie ‘padkaart’ op te stel vir jou opstel. Miskien wil jy volgende lees oor ʼn plan om hierdie ‘padkaart’ mee aan te pak. Is jy nog onseker wat ʼn inleiding is? Het jy die hoofargument van jou opstel gekies, maar jy is nog onseker wat ʼn hipotese is? Sal ʼn inleidingwerksblad jou help om aan die gang te kom? Is jy op soek na nog leesstof oor inleidings?
In Engels word ʼn hipotese ʼn thesis statement genoem. Die hipotese is die hoofargument van jou opstel. Dit is iets wat jy kan reg bewys of verkeerd bewys. Hier volg ʼn baie simpel voorbeeld om ʼn hipotese te verduidelik.
Verbeel jou jy het ʼn opstelopdrag gekry. Die opdrag sê die volgende:
Skryf ʼn argumenterende opstel waarin jy vir of teen die volgende stelling redeneer: “Honde is beter as katte.”
Jy kies om teen hierdie stelling te argumenteer. Met ander woorde, jy gaan in jou akademiese, redenerende opstel bewys dat katte beter is as honde. Jou hipotese is dan: Katte is beter as honde.
ʼn Hipotese volg dikwels die volgende formaat: X is Y (of X werkwoord Y). Dit kan ook meer kompleks wees. Vir ʼn komplekse onderwerp sal jou hipotese waarskynlik meer lyk soos: X is waar as gevolg van Y en Z. ʼn Hipotese verskyn nie altyd presies in hierdie woorde nie, maar die logika is dieselfde. Kom ons kyk na ʼn paar voorbeelde van hipoteses in gepubliseerde akademiese artikels. Indien die hipotese nie aanvanklik in die X-is-Y-formaat geskryf is nie, is die hipotese in hakkies herrangskik om te wys dat dit dieselfde denkwyse is wat toegepas is.
Hier is ʼn die voorbeelde van hipoteses:
“In hierdie studie word die gaping in die beskikbare akademiese publikasies oor leerders se ervaringe van formatiewe assessering oorbrug deur ʼn narratiewe ondersoek van graad 9- Afrikaans Huistaalleerders.” (Smith, Müller & De Klerk, 2022:439). (Kom ons stel dit in die formaat X is Y: ʼn Narratiewe ondersoek van graad 9- Afrikaans Huistaalleerders is ʼn oorbrugging van die gaping in die beskikbare akademiese publikasies oor leerders se ervarings van formatiewe assessering.)
“Die chimeriese aard van groteske ornamente uit die Renaissance en Maniëristiese periodes word hier ondersoek met betrekking tot die manier waarop die grense wat normaalweg die menslike, dierlike, en plantkundige kategorieë duidelik afbaken, daardeur oorskry en ontbind word.” (Liebenberg, 2022:282).(Herskryf as X werkwoord Y: Die chimeriese aard van groteske ornamente uit die Renaissance en Maniëristiese periodes oorskryf en ontbind die grense wat normaalweg die menslike, dierlike en planthundige kategorieë duidelik afbaken.)
En natuurlik…
Katte is beter as honde.
Let wel: ʼn Hipotese is nie noodwendig net een sin nie. Soms is dit moontlik om die hipotese in een sin vas te vang, maar dikwels moet meer as een sin gebruik word.
Verwante plasings: Is jy besig om ʼn inleiding vir jou opstel te skryf en jy wil graag weet wat ʼn inleiding behels?
Die inleiding van jou akademiese opstel is die eerste paragraaf van jou opstel. Dit is die paragraaf wat vir jou leser ʼn idee moet gee van wat om te verwag in jou opstel. Dit is die ‘padkaart’ van wat voorlê. Dit dui die ‘padstops’ (argumente wat jy gaan voer) aan. Jou opstel kan ʼn inleiding hê, maar groter tekste soos ʼn tesis, het soms ʼn inleiding by elke hoofstuk en/of elke afdeling. ʼn Inleiding bevat nie ‘nuwe’ informasie nie. Dit beteken dat alles wat jy in jou inleiding noem in die lyf van jou opstel bespreek moet word.
Wat moet jy in ag neem wanneer jy ʼn inleiding skryf?
Hier is ʼn paar vrae wat jy moet kan beantwoord voor jy jou inleiding aanpak:
Wat is die hoofargument van my opstel? Met ander woorde, wat is jou hipotese? (Wil jy graag weet wat ʼn hipotese of ʼn thesis statement is?)
Watter kleiner argumente gaan jy voer om jou hoofargument te staaf? Dit is die ‘padstops’ wat jy moet aandui. Jy gee vir jou leser ʼn idee van die ‘padkaart’ wat jy gaan volg in jou opstel. (Gewoonlik het ʼn 900 woord-opstel so drie kleiner argumente.)
Is daar ʼn teenargument vir jou hoofargument wat jy gaan noem in jou opstel? Indien jy wel ʼn teenargument het wat jy gaan bespreek (en verkeerd bewys, siende dat jy nie jou eie hoofargument wil ondermyn nie), noem dit in jou inleiding.
Gaan jy ʼn voorbeeld of ʼn voorbeeldteks bespreek? Noem hierdie voorbeeld wat jy gaan bespreek sommer solank in jou inleiding. Dit is tog een van die ‘padstops’ wat jy gaan maak.
As jy al hierdie vrae beantwoord het, is jy reg om jou inleiding se skryf aan te pak. Nou moet jy nadink oor ʼn inleiding se struktuur en hoe om die antwoorde op hierdie bostaande vrae aanmekaar te weef.