Wat is die struktuur van ʼn inleiding? 

Hierdie plasing sluit aan by die vorige plasings oor hoe om ‘n inleiding vir ‘n akademiese opstel te skryf. Hierdie plasing fokus spesifiek op die ‘padkaart’ van jou opstel wat jy in jou inleiding moet beskryf.

Jou inleiding bestaan uit ʼn hipotese en ʼn ‘padkaart’ van die argumente wat jy in die lyf van jou opstel gaan bespreek. Kom ons kyk weer na die voorbeeldopstel. Die argument wat gevoer word, is: “Katte is beter as honde”. Hier is ʼn paar denkbeeldige redes hoekom katte kan beter wees as honde: 

  1. ʼn Kat se pels is sagter as ʼn hond se pels. 
  2. ʼn Kat hardloop vinniger as ʼn hond. 
  3. ʼn Kat het ʼn langer stert as ʼn hond. 

Noudat jy die hoofargument (Katte is beter as honde) en die kleiner argumente (sien argumente een tot drie hierbo) van jou opstel geïdentifiseer het, kan jy jou inleiding skryf. Jou inleiding sal, sonder woorde wat die gedagtes netjies aan mekaar koppel, as volg lyk: 

Katte is beter as honde. ʼn Kat se pels is sagter as ʼn hond se pels. ʼn Kat hardloop vinniger as ʼn hond. ʼn Kat het ʼn langer stert as ʼn hond. 

Dit is reeds ʼn goeie inleiding, maar ʼn goeie akademiese opstel het nog elemente wat jy in hierdie inleiding moet inwerk:

  • Die skrywer se “stem” wat vir jou leser leiding gee (en in die lyf vir jou leser nuwe insigte aandui). Jou “stem” moet vir jou leser sê: “Jy is nou hier (binne die konteks van hierdie opstel).”
  • Daar moet ook ʼn vloei wees aan die skryfstyl. ʼn Inleidende sin kan met die vloei gehelp. Dit verskaf konteks vir jou leser sodat jy nie net wegtrek met jou argumentvoering nie.
  • Laastens, moet daar ʼn “goue draadjie” wees. Jy het miskien al gehoor van die “goue draadjie”. Dit is eenvoudig net woorde wat verskillende sinne, paragrawe en argumente aan mekaar koppel. Dit sluit woorde/grases soos “en”,  “daarom”, “in vergelyking met”, “in teenstelling” in. 

As ʼn mens nou hierdie drie elemente in ag neem lyk jou inleiding iets as volg (dit wat in vetdruk is, is jou hipotese en ‘padkaart’): 

Daar is ʼn eeue oue debat oor watter diere die beste troeteldiere maak. Katte en honde word dikwels met mekaar vergelyk. Hierdie opstel argumenteer dat katte beter troeteldiere is as honde. Daar is verskeie redes hiervoor, maar drie van die hoofredes hoekom katte beter is as honde sluit die volgende in: Eerstens, het katte sagter pelse as honde en daarom is hulle meer aangename troeteldiere om aan te vat. Tweedens, kan honde nie so vinnig soos katte hardloop nie. Katte is dus beter atlete as honde. Laastens, het katte langer sterte as honde

Let op: Die inhoud van hierdie inleiding is eintlik presies dieselfde as die inhoud van die vorige inleiding, maar met behulp van ʼn inleidende sin (of twee) en frases wat die verskillende gedagtes aan mekaar koppel, is daar heelwat meer vloei. 


Die volgende woorde en frases hierbo dui vir die leser aan “Jy is nou hier.”: 

  • Hierdie opstel argumenteer dat…
  • Daar is verskeie redes hiervoor, maar drie van die hoofredes…
  • Eerstens,…
  • Tweedens,…
  • Laastens,…

Hierdie woorde dien dan ook as ʼn soort “goue draadjie” wat die verskillende gedagtes in die inleiding aan mekaar koppel.

Hierdie inleiding begin minder skielik. Die volgende frase maak dat die inleiding vir die leser minder skielik voorkom: Daar is al ʼn eeue oue debat oor watter diere die beste troeteldiere maak. Katte en honde word dikwels met mekaar vergelyk. Dit is nie die enigste funksie van hierdie sinne nie. Hierdie sinne kontekstualiseer ook die hoofargument van die opstel. Daar word eers na die breër konteks verwys (‘n eeue oue debat) en dan na die spesifieke konteks van dit waaroor die opstel gaan handel (katte en honde wat vergelyk word). 

Kom ons kyk na ʼn voorbeeld van ʼn ‘padkaart’ wat in ʼn gepubliseerde akademiese artikel (Smith, Müller & De Klerk, 2022) verskyn het:

Alvorens die leerders se narratiewe ontleed word, sal die waarde van formatiewe assessering in hierdie artikel aan die hand van die volgende faktore bespreek word: ondersteunende formatiewe assessering, buigsame formatiewe assessering en formatiewe assessering vir selfgerigte leer.

(Smith, Müller & De Klerk, 2022:440)

Ten slotte, kom ons kyk na die verskillende ‘padstops’ wat hierdie ‘padkaart’ vir ons aandui. Volgens die ‘padkaart’ wat in die artikel (Smith, Müller & De Klerk, 2022:440) se inleiding verskyn, gebeur die volgende argumentvoering in die artikel: 

(1) Leerders se narratiewe word ontleed. 

(2) Die waarde van formatiewe assessering word bespreek. 

Laasgenoemde bespreking vind plaas in die volgende kategorieë: 

(2.1) ondersteunende formateiwe assessering, 

(2.2) buigsame formatiewe assessering, en 

(2.3) formatiewe assessering vir selfgerigte leer.

Bronnelys

Smith, N., Müller, M. & De Klerk, E.D. 2022. ʼn Blik op graad 9- Afrikaanse Huistaalleerders se ervaring rakende formatiewe assessering vir taalontwikkeling. Litnet Akademies (Opvoedkunde). 19(1):436-461. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2022/04/LitNet_Akademies_19-1_15_Smith-Muller-deKlerk_436-461.pdf [2022, April 30]. 

Verwante plasings:

Jy is nou reg om jou eie ‘padkaart’ op te stel vir jou opstel. Miskien wil jy volgende lees oor ʼn plan om hierdie ‘padkaart’ mee aan te pak. Is jy nog onseker wat ʼn inleiding is? Het jy die hoofargument van jou opstel gekies, maar jy is nog onseker wat ʼn hipotese is? Sal ʼn inleidingwerksblad jou help om aan die gang te kom? Is jy op soek na nog leesstof oor inleidings?

Picture of a cat pointing at a board with numbering one, two, and three. At each number there is a fish.
Penskets van ‘n kat wat sy opstel beplan deur Aletta Simpson

Wat is ʼn hipotese?

In Engels word ʼn hipotese ʼn thesis statement genoem. Die hipotese is die hoofargument van jou opstel. Dit is iets wat jy kan reg bewys of verkeerd bewys. Hier volg ʼn baie simpel voorbeeld om ʼn hipotese te verduidelik.

Verbeel jou jy het ʼn opstelopdrag gekry. Die opdrag sê die volgende: 

Skryf ʼn argumenterende opstel waarin jy vir of teen die volgende stelling redeneer: “Honde is beter as katte.”

Jy kies om teen hierdie stelling te argumenteer. Met ander woorde, jy gaan in jou akademiese, redenerende opstel bewys dat katte beter is as honde. Jou hipotese is dan: Katte is beter as honde. 

ʼn Hipotese volg dikwels die volgende formaat: X is Y (of X werkwoord Y). Dit kan ook meer kompleks wees. Vir ʼn komplekse onderwerp sal jou hipotese waarskynlik meer lyk soos: X is waar as gevolg van Y en Z. ʼn Hipotese verskyn nie altyd presies in hierdie woorde nie, maar die logika is dieselfde. Kom ons kyk na ʼn paar voorbeelde van hipoteses in gepubliseerde akademiese artikels. Indien die hipotese nie aanvanklik in die X-is-Y-formaat geskryf is nie, is die hipotese in hakkies herrangskik om te wys dat dit dieselfde denkwyse is wat toegepas is.

Hier is ʼn die voorbeelde van hipoteses: 

  1. “In hierdie studie word die gaping in die beskikbare akademiese publikasies oor leerders se ervaringe van formatiewe assessering oorbrug deur ʼn narratiewe ondersoek van graad 9- Afrikaans Huistaalleerders.” (Smith, Müller & De Klerk, 2022:439). (Kom ons stel dit in die formaat X is Y:  ʼn Narratiewe ondersoek van graad 9- Afrikaans Huistaalleerders is ʼn oorbrugging van die gaping in die beskikbare akademiese publikasies oor leerders se ervarings van formatiewe assessering.)
  2. “Die chimeriese aard van groteske ornamente uit die Renaissance en Maniëristiese periodes word hier ondersoek met betrekking tot die manier waarop die grense wat normaalweg die menslike, dierlike, en plantkundige kategorieë duidelik afbaken, daardeur oorskry en ontbind word.” (Liebenberg, 2022:282). (Herskryf as X werkwoord Y: Die chimeriese aard van groteske ornamente uit die Renaissance en Maniëristiese periodes oorskryf en ontbind die grense wat normaalweg die menslike, dierlike en planthundige kategorieë duidelik afbaken.)

En natuurlik…

Katte is beter as honde.

Let wel: ʼn Hipotese is nie noodwendig net een sin nie. Soms is dit moontlik om die hipotese in een sin vas te vang, maar dikwels moet meer as een sin gebruik word.

Verwante plasings:
Is jy besig om ʼn inleiding vir jou opstel te skryf en jy wil graag weet wat ʼn inleiding behels?

Bronnelys

Liebenberg, D. 2022. Chaos en teenstruktuur in Europese groteske ornamente van die 16de en 17de eeue. Litnet Akademies. 19(1): 280-306. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2022/04/LitNet_Akademies_19-1_10_Liebenberg_280-306.pdf [2022, April 30]. 

Smith, N., Müller, M. & De Klerk, E.D. 2022. ʼn Blik op graad 9- Afrikaanse Huistaalleerders se ervaring rakende formatiewe assessering vir taalontwikkeling. Litnet Akademies (Opvoedkunde). 19(1):436-461. [Intyds]. Beskikbaar: https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2022/04/LitNet_Akademies_19-1_15_Smith-Muller-deKlerk_436-461.pdf [2022, April 30]. 

A sketch of a cat and a dog with a heart in between.
“Katte is beter as honde”: ‘n Penskets deur Aletta Simpson

Wat is ʼn akademiese inleiding?

Wat is ʼn inleiding?

Die inleiding van jou akademiese opstel is die eerste paragraaf van jou opstel. Dit is die paragraaf wat vir jou leser ʼn idee moet gee van wat om te verwag in jou opstel. Dit is die ‘padkaart’ van wat voorlê. Dit dui die ‘padstops’ (argumente wat jy gaan voer) aan. Jou opstel kan ʼn inleiding hê, maar groter tekste soos ʼn tesis, het soms ʼn inleiding by elke hoofstuk en/of elke afdeling. ʼn Inleiding bevat nie ‘nuwe’ informasie nie. Dit beteken dat alles wat jy in jou inleiding noem in die lyf van jou opstel bespreek moet word. 

Wat moet jy in ag neem wanneer jy ʼn inleiding skryf?

Hier is ʼn paar vrae wat jy moet kan beantwoord voor jy jou inleiding aanpak: 

  • Wat is die hoofargument van my opstel? Met ander woorde, wat is jou hipotese? (Wil jy graag weet wat ʼn hipotese of ʼn thesis statement is?)
  • Watter kleiner argumente gaan jy voer om jou hoofargument te staaf? Dit is die ‘padstops’ wat jy moet aandui. Jy gee vir jou leser ʼn idee van die ‘padkaart’ wat jy gaan volg in jou opstel. (Gewoonlik het ʼn 900 woord-opstel so drie kleiner argumente.)
  • Is daar ʼn teenargument vir jou hoofargument wat jy gaan noem in jou opstel? Indien jy wel ʼn teenargument het wat jy gaan bespreek (en verkeerd bewys, siende dat jy nie jou eie hoofargument wil ondermyn nie), noem dit in jou inleiding. 
  • Gaan jy ʼn voorbeeld of ʼn voorbeeldteks bespreek? Noem hierdie voorbeeld wat jy gaan bespreek sommer solank in jou inleiding. Dit is tog een van die ‘padstops’ wat jy gaan maak. 

As jy al hierdie vrae beantwoord het, is jy reg om jou inleiding se skryf aan te pak. Nou moet jy nadink oor ʼn inleiding se struktuur en hoe om die antwoorde op hierdie bostaande vrae aanmekaar te weef.

Wil jy graag leer hoe om jou hipotese te skryf?

ʼn Skets van skryfbehoeftes deur Aletta Simpson