Hoe verskil ʼn gevolgtrekking van ʼn inleiding?

Die gevolgtrekking van jou opstel is veronderstel om ʼn spieëlbeeld van jou inleiding te wees. Jy kan ook aan jou inleiding en gevolgtrekking dink as die bookstutte (“bookends”) van jou opstel. Hierdie plasing gaan verduidelik wat hiermee bedoel word en hoe om jou gevolgtrekking te skryf na aanleiding van jou inleiding.

Die Universiteit van Arizone het ʼn webblad, Global Campus (Introductions and Conclusions, 2021). Hierdie webblad verduidelik hoe ʼn inleiding van ʼn gevolgtrekking verskil. Hulle gebruik die tregter-metode. Die tregter-metode is wanneer jy by die breedste konteks begin en werk na die mees spesifieke gegewens. Dis nou as jy ʼn inleiding skryf. Global Campus wys dat wanneer jy ʼn gevolgtrekking skryf draai jy die tregter op sy kop.

Die inleiding

ʼn Inleiding kan as volg voorgestel word volgens die tregter-metode:

As jy die plasings oor inleiding gaan lees, sal jy agterkom dat die inleiding van ʼn opstel hoofsaaklik bestaan uit die hipotese en die ‘padkaart’ van die opstel. Die ‘padkaart’ is die verskillende argumente wat jy in die opstel gaan voer om die hipotese te bewys. So word die inleiding dan gestruktureer: 

Die gevolgtrekking

Die gevolgtrekking van jou opstel is veronderstel om ʼn spieëlbeeld van jou inleiding te wees.

Die struktuur van ʼn gevolgtrekking is die teenoorgestelde van die struktuur van ʼn inleiding: 

In ʼn inleiding noem jy jou hipotese en verduidelik die ‘pad’ wat die opstel gaan volg. Met jou gevolgtrekking verduidelik jy wat die ‘pad’ is wat jou opstel gevolg het. Die ‘eindbestemming’ is dan jou hipotese wat as ʼn stelling geformuleer is: 

ʼn Bespreek van ʼn voorbeeld van ʼn regte gevolgtrekking uit ʼn akademiese artikel uit is die plasing wat hierop volg.

Bronnelys

Introductions and Conclusions. 2021. [Intyds]. Beskikbaar: https://writingcenter.uagc.edu/introductions-conclusions [2022, 27 Mei]. 

sketch of a cat holding two documents: one with an arrow pointing at the top of the page and one with an arrow pointing at the bottom of the page
Skets deur Aletta Simpson

Hoe om ʼn gevolgtrekking te skryf

Die maklikste manier om jou gevolgtrekking te skryf is om eers jou inleiding te skryf. Skryf Afrikaans het al ʼn paar plasings oor hoe om ʼn inleiding te skryf wat jou daarmee kan help. Jou gevolgtrekking is veronderstel om ʼn spieëlbeeld te wees van jou inleiding.

Verbeel jou ons skryf saam ʼn opstel. Die voorbeelopstel wat ons aan die skryf is, Katte is beter as honde, se inleiding is as volg: 

Daar is ʼn eeue oue debat oor watter diere die beste troeteldiere maak. Katte en honde word dikwels met mekaar vergelyk. Hierdie opstel argumenteer dat katte beter troeteldiere is as honde. Daar is verskeie redes hiervoor, maar drie van die hoofredes hoekom katte beter is as honde sluit die volgende in: Eerstens, het katte sagter pelse as honde en daarom is hulle meer aangename troeteldiere om aan te vat. Tweedens, kan honde nie so vinnig soos katte hardloop nie. Katte is dus beter atlete as honde. Laastens, het katte langer sterte as honde. 

Om te verstaan hoe hierdie inleiding geskryf is, gaan kyk na hierdie plasing

Kom ons breek hierdie opstel weer in kleiner dele op. Die hipotese: Katte is beter as honde. Dit is ook die hoofargument. Dan volg daar die drie kleiner argumente: 

  • ʼn Kat se pels is sagter as ʼn hond se pels. 
  • ʼn Kat hardloop vinniger as ʼn hond. 
  • ʼn Kat het ʼn langer stert as ʼn hond.

Nou as ʼn mens in gedagte hou dat die gevolgtrekking van ʼn akademiese opstel ʼn spieëlbeeld moet wees van die inleiding van jou opstel dan moet die gevolgtrekking dieselfde hipotese en kleiner argumente bevat. Die struktuur van ʼn inleiding is as volg: Die hipotese en die pad wat jy gaan volg (die ‘padkaart’) om die hipotese te bewys. Die struktuur van ʼn gevolgtrekking is as volg: Die pad wat jy gevolg het (die ‘padkaart’) en die eindbestemming (die hipotese). 

Die voorbeeldopstel se gevolgtrekking sal dus so lyk:

Vanuit die bostaande bespreking is dit duidelik dat katte sagter pelse het as honde en daarom is hulle meer aangename troeteldiere om aan te vat. Honde kan nie so vinnig soos katte hardloop nie. Katte is dus beter atlete as honde. Katte het langer sterte as honde. As al hierdie feite in ag geneem word, blyk dit dat katte beter troeteldiere is as honde. 

Hier volg binnekort ʼn plasing wat ʼn voorbeeld van ʼn regte gevolgtrekking van ʼn akademiese artikel ontleed en uitwys hoe die hipotese en padkaart in die gevolgtrekking voorkom.

A sketch of a cat writing 1, 2, 3 with a big pencil.
Skets deur Aletta Simpson

Wat is ʼn gevolgtrekking

ʼn Gevolgtrekking van ʼn akademiese opstel is die laaste paragraaf van die opstel. Dit is ʼn opsomming van wat jy in die lyf van jou opstel geskryf het en die argumente wat jy voer in jou opstel. As jou leser jou opstel se inleiding en gevolgtrekking gelees het, is hulle veronderstel om presies te weet waaroor jou opstel gaan. Nes jou inleiding, bevat jou gevolgtrekking ook geen nuwe informasie nie. Dit is slegs ʼn samevatting van wat jy in die res van jou opstel bespreek het en hoe jy jou hipotese bewys het. 

Wat moet jy in gedagte hou wanneer jy ʼn gevolgtrekking skryf?

Wat is die ‘padkaart’ wat jou opstel volg? Jou gevolgtrekking moet jou leser herinner wat die ‘padstops’ is wat jy in die lyf van jou opstel maak. Jou gevolgtrekking moet vir jou leser weer die ‘padkaart’ opsom van jou opstel. Met ander woorde, jou gevolgtrekking moet ʼn opsomming wees van al die argumente wat jy in jou opstel bespreek het. 

Wat is die hoofargument van jou opstel? Met ander woorde, wat was jou hipotese of jou “thesis statement” (wat jy ook in jou inleiding noem). 

Het jy ʼn voorbeeld of ʼn voorbeeldteks bespreek bespreek in jou opstel? Noem hierdie voorbeeld in jou gevolgtrekking. Dit is tog een van die ‘padstops’ wat jy gemaak het. 

As jy hierdie vrae kan beantwoord, is jy reg om jou gevolgtrekking aan te pak.

As jy hierdie vrae kan beantwoord, is jy reg om jou gevolgtrekking aan te pak. Jou gevolgtrekking is die spieëlbeel van jou inleiding. Daar sal ʼn volgende plasing wees oor hoe ʼn inleiding en ʼn gevolgtrekking verskil en wat hulle in gemeen het.

Let wel: Daar is ʼn verskil tussen ʼn gevolgtrekking en ʼn slot of samevatting. ʼn Gevolgtrekking is die laaste paragraaf van ʼn argumenterende opstel. Dit som op hoe jy jou hipotese bewys het. ʼn Slot of ʼn samevatting is slegs ʼn opsomming van dit wat bespreek is. Daar word nie iets nuuts geargumenteer of bewys in ʼn opstel wat ʼn slot of ʼn samevatting het nie.

'n Sketch of a cat and a big questionmark and a pencil.
Skets deur Aletta Simpson